Wednesday, 3 August 2011

Witsand

Wegbreek na Witsand se wyk 


Dat ons Suidkaap vanjaar met ‘n uitsonderlike goeie reënseisoen geseën was, is tans nêrens so duidelik merkbaar soos aan die natuurparadys langs die Overbergse N2 ,en suidwaarts Witsand toe langs die R322 nie. Die skilder wil net sy kleurpalet nadergryp, die skrywer sy notaboek, en die fotograaf sy kamera, want om elke draai verras die wonderskone natuur diegene wat reis vir die plesier om waar te neem.U ku hamba, Kuku bona!

Met die intrapslag by Witsand Port Beaufort word jy verwelkom deur die groot uithangbord wat onomwonde verklaar dat jy nou die gebied van die walvis se kraamsaal en kleuterskool betree. Hierdie stelling word dan ook bewys met die eerste oogopslag oor die San Sebastianbaai , waar ons binne sekondes 15 knoetsige Noorkapper-walvisse tel, elk besig met sy eie manewales van pronk, duik en spring. Hoog teen die duinekant is 'n aantal banke aangebring vir diegene wat walvisse tydsaam met verkykers wil sit en bespied

Kaap Infanta se punt aan die oorkant steek helder af teen die horison van blou lug en see. Die Breederivier-monding is bevaarbaar vir sowat 35 kilometer opwaarts Malgas toe, hoewel die verskuiwende sandbanke in die monding dit redelik gevaarlik maak vir onervare bootmanne.

Die strandoord Witsand is eintlik die strandfrontgebied en Port Beaufort lê meer aan die linkerkantste oewer van die Breederiviemonding as jy seewaarts kyk, maar 'n duidelike onderskeid of afbakening is daar nie. Yslike uitgespoelde boomstompe op die strande, soos spierwit geraamtes, is oorblyfsels van ‘n vorige rivier-in-vloed.

By die halfmaangetypoel spat die groot branders van die inkomende gety hulself flenters in ‘n skuim van wit. Met die verbystap knars die stewels van twee vissermanne oor die strand se skulpgruis - oor elk se skouer swaai 'n vangs blinksilwer vis, soos trosse uit die Beloofde Land. Ek dink so by myself , " hul dag is uit die see gegryp".

Ons gaan tuis in die kajuithuis van ‘n jarelange inwoner, veteraan seiljagnavigator en ywerige hengelaar. Die foto’s en versierings in ons gasheer se houthuis getuig van sy spesiale verbintenis  met die see -  rekord-kabeljouvangste, seiljagte op wedvaarte tussen die Kaap en Suid-Amerika, allerlei  interessante strand-optelgoed en ‘n unieke nautilus-skulpversameling.  Hy wys die strate met visname aan ons uit - Galjoen, Steenbras, Roman, Kabeljou , Knorhaan, vertel lekker seestories oor sy kleintyd en gesels onderhoudend oor sy spesiale seemansdae. Die see en die mense van Witsand se grille en giere ken hy ewe goed!

Mooi B & B’s en ander verblyfplekkies word aan ons uitgewys, soos o.a. die Pansy Shell Cottages, almal met benaminge wat verband hou met die see. Ons verkneukel ons aan oulike strandhuisies soos Rotsgeklots, Stukkie-vir-Stukkie,  Bikivibiki , No Warries, Whales Tales. Hulle gesels oor die ontploffing in huis en erfpryse die afgelope drie jaar, die  mooi ontwikkelings soos Oyster Bed Village, en nuwe kampeer- en sportfasiliteite.

Ons gasvrou verskaf tussenin inligting oor Hoonkers on the Rocks, die Whalers’Grill en Di’Mond -seekosrestaurante,  Nella se “all-sorts”-winkel en die Backpackers . Historiese gedenkwaardighede soos die Barry Memorial Church  en Die Kraaltjie-bootjettie wat dateer uit die jaar 1849 toe die Breede nog ‘n bevaarbare hawe was vir vistreilers en kusvragskepe (koring, volstruisvere, wol vanaf die Overberg en Karoo),  maak ons kuier verder  interessant en leersaam.

‘n Middag word opsygesit om met die grondpad langs Malgas toe te ry - die enigste nie-motoriese (mensbeheerde) rivierpont in die land word daar aangetref. ’n Span van twee man sorg dat die kabel wat die pont oortrek aan’t beweeg bly  - dis harde werk slegs met behulp van skouerbande en lyfgordels. Op ‘n besige dag in seisoen trek hulle glo tot 50 +  motors oor, soms sommer drie-drie tegelyk. Die koste beloop R30 per motor retoer, maar uit pure erkentlikheid stop jy sommer nog ‘n fooitjie in die hand van hierdie harde arbeiders.

Malgas is ‘n lekker rustige wegbreek- of wegkruipplek, met ‘n  hotel en konferensielokaal. Vir tydverdryf móét ‘n besoeker egter maar ‘n boot, sudoku en ‘n boek saambring! Enkele rivierboothuise kan ook bespreek word.

Terug in Witsand verneem ons van al die sportgeriewe en fasiliteite: 4 x 4 duinebesie-ritte, rolbal, perdry, jaarlikse hengelkompetisies, ‘n verskeidenheid seesport en bootvaarte. Verder is staproetes gewild in die duineveld , of strandlangs na Moodie se Put en die riviermonding by Puntjie.

Witsand, Infanta en  Malgas langs die Breederiviermonding , asook die naburige Vermaaklikheid omvat ‘n groot bio-diversiteit - plantspesies, seelewe ,voëls en wild. Troppies volstruis en kraanvoëls, blesbok en zebra, skaap en bees word hier aangetref.

Wanneer laas het jy ‘n vlerksleep-volstruis in ‘n warboel van wit en swart sien pronk, ‘n swerm lieflike bloukransvoëls laag oor die  neon-geel canola-landerye land sien vlieg, spekvet Jersey-beeste teen ‘n  heuwel onder ‘n lae reënboog sien wei, waterblommetjies op ‘n silwer dam sien dryf, of stilgehou by  bont tweelinglammers van ‘n spierwit ooi, omdat dit net eenvoudig so pragtig is?

Het jy al ‘n draai gaan maak by Blombos se protea-reservaat, die panorama van die Duiwenhoksriviermonding van bo-af bewonder, 'n rare spierwit pansy-skulp of nautilus opgetel, of Witsand se walvisse vlak agter die branders sien speel? Het jy al Vermaaklikheid se fynbosheuning geproe?

Vir ‘n wegbreek na Witsand is die asemrowende 250 km roete of reis (vanaf Strand se kant) net so belangrik as die eindbestemming op die duine.



Boggomsbaai

 Die afdraaipad na Boggomsbaai

Wil jy totaal en al wegbreek van stadsrumoer, besoedeling, misdaad? Soek gerus die afdraaipad na Boggomsbaai.

Op ‘n padkaart kry mens dit nie sommer maklik nie, maar ‘n GPS’sie  kan jou help om by hierdie unieke bewaringsbewuste dorpie uit te kom.

Boggom-se-baai het vroeër verwys na ‘n gesiene inwoner wie se lyftaal glo sterk herinner het aan 'n ‘burger van die berge’! Hierdie afbeelding van ‘n bobbejaan het die man glo erg aanstoot gegee en is sedertdien verwyder.

Naby die einste afdraaipad  is die eerste teken dat ons nou in ‘n 'anderste' geweste is – ‘n onbemande hout-en-heuningstalletjie met slegs ‘n blikkie vir geld daarnaas. Misdaad kon sóver nog nie die langpad suidwaarts loop tot hier nie!

Die Boggomsbaaiers se deure staan oop, mense groet mekaar lekker op Afrikaans, motorsverkeer is min en velddiere kry padvoorkeur. Hier ry jy nie gou weer nadat jy afgesaal het nie - jy stap in die ongerepte omgewing, met waardering!  Kinders speel vankansietye tussen duine,  ry onbekommerd fiets of vang veilig vis saam met Pa.

Besoekers soek verniet ‘n Boggomsbaaise hotel, winkel, vulstasie of huishulpe. ‘Inkommers’ (nuwe intrekkers) verkies dat hul privaatheid nie deur kommersiële ontwikkeling (en alles wat daarmee tepaardgaan) bedreig of versteur word nie.

Tog is daar genoeg om mens aktief besig te hou , soos golf, jukskei, tennis en die Sandpiper –gesondheidspa. Seekus-wandelings, soos die Oystercatcher Trail van Fred Orban, bekende inwoner-ontwikkelaar met ‘n ywerige missie vir seekus- en natuurbewaring, is besonder gewild.

Hierdie 5-daagse begeleide kusroete lei vanaf Cape St Blaise tot Gouritzmond, langs seekranse, ou Khoi San-grotte , visfuik-poele, verby strandduine en deur fynbosveld.  Wayne Meyer, ‘n gekwalifiseerde kuswag–cum-bewaringspatrolleerder, verbonde aan  Kaapse Natuurbewaring , teken aktief op gereelde basis bewarea-data aan en vermeld ongerymdhede, soos onwettige vangste en verwydering van skulpvis, besoedeling en ongewone strandverskynsels.

Boggoms het sy eie kwota digters, skrywers, skilders, weerkenners, akademici, en celebrities wat verkies om hul talente stil-stil te bedryf. Hier kan ‘n mens nog idealis, optimis en humanis wees!

Boggomsbaaiers is trots gesteld op beheerde eko-ontwikkeling waar mens en natuur in harmonie kan saamleef. Kleinbos is  so‘n eksklusiewe, ontwikkelingsbeheerde eko-landgoed  op die Kaaps-Hollandse styl  tussen endemiese Suid-Kaapse  plantegroei..

Hier, 'ver van die stadgeluide en klinkende klank van geld’ gaan ons tuis in Skeinslê, ‘n huis op steltpale wat ver oor die see en bewarea van Boggoms, Vleesbaai en Fransmanshoek uitkyk. Eintlik is die naam ‘n lekker woorspeling van die eienaars se rare van , Skein.Inwoners word hier makliker deur hul unieke huisnaam opgespoor , eerder as per adres. Waar-Mot-en Roes-Verniel pas uitstekend by een van die oudste strandhuise.

Ons braai ‘n vleisie op die houtdek en sien slegs hier en daar enkele ligte van permanente inwoners tussen die natuurlike plantegroei flikker. Saans is dit net jy, die ruising van die see, die stilte en jou Skepper.

Op die wye strand  kom ek ‘n hengelaar teë wat knars-knars oor die skulpgruis aangestap kom met twee yslike visstokke. Hy glimlag , groet en gesels oor sy vangs van kabeljou, harders en leervis . Hy poseer inskiklik met ‘n tros blinksilwervis oor sy skouer vir my foto!

Het Boggoms probleme? “Man, besoekers se honde is soms lastig op die strand en verwilder die bedreigde swart tobies (oystercatchers). So af en toe moet ons ook ‘n walvissie terugswem in diepsee toe!”, grinnik Fred. Sjoe!

Ons verken ook die naburige Vleesbaai en Gouritzmond, wat weens  uiteenlopende eienskappe en redes sy eie vakansie-aanhangers het.

Nou weet julle mos waar om te gaan skuil teen die aanslae van die land .  Naby Mossgas draai jy regs af van die N2 en soek dan maar verder!


Overberg

Net anderkant die bult...

Oor die Hottentotshollandberge kronkel die besigste van die vier bergpasse in die Suidkaap , die Sir Lowry's, wat toegang verleen tot Overbergwêreld.

Dit is so'n lekker Sondag-uitstappie na die plekkies ágter die berg -  dRt wat mens soms oorslaan as jy haastig verbyjaag Tuinroete toe

Dis mos nie net die bestemming wat belangrik is nie, maar ook die reis daarheen. As jy so 'n Kaapse draai wil gaan maak Overberg se kant toe, vat net jou tyd om stil te hou, te kyk en waardeer - vir avontuur moet jy mos maar afdraaipaadjies langs ry.

Ek dink nou maar aan die heerlike padstalle aan weerskante van die Sir Lowry’s pas naby Grabouw, nl Peregrine en Orchards waar jy kan stilhou om jou te verlustig aan bosse inheemse proteas met fynbos, droëvrugte, heerlike konfyte en tuisgebak.
Draai ook gerus af na die klein dorpie,Grabouw , waar jy die heel lekkerste boerewors in die kontrei kan koop.

Grabouw en Elgin is mos by uitstek appelwêreld  en gedurende lentetyd staan die appelbome in hulle wit bloeiseltutu's, ry op ry, gereed vir die volgende somerdrag.
Niks behalwe tyd verhoed jou om daar by 'n pakhuis te gaan inloer om te sien hoe netjies en deeglik die appels gesorteer en verpak word nie! Die Appletizer-pad draai ook hiernaby uit die grootpad.

By Dassiesfontein se padstal eet reisigers op pad na êrens, lustig van 'n middagete-spyskaart kontreikos uit blikborde op houttafels, en snuffel  'n antieke stukkie uit tussen die magdom antieke snuisterye.

Verder  N2-langs ry jy deur die Houwhoekpas met sy charismatiese oorslaapplek, die Houwhoek Inn, waar jy  knus langs 'n kaggelvuur kan sit om 'n rooiwyntjie te geniet.
Die Overberg self wil jou na die palet en skilderkwas laat gryp, so inspirerend mooi is die lappieskombers van heuwels – kontoerlande koring, lusern en canola, en uitgestrekte uievelde by Botrivier.

Troppies volstruis wei koponderstebo , tweelinglammers huppel die somer tegemoet en kraanvoëls sleep kwaai vlerk.

Net voor Caledon draai mens links af Genadendal en Greyton toe, die  eindbestemming van  ons dagrit. By Genadendal hou jy stil om 'n bietjie wyser te word oor die Morawiese sendingpogings .  Dis Sondag en die inwoners stap en masse uitgedos, straat-af kerk toe.

Jy gaan loer in by die historiese ou grasdakhuisies en kerk en neem foto’s van die ou klok wat werkers en skoolkinders sou maan om nie laat by die skool, werk of kerk aan te kom nie. Kliek sommer ook een van die geduldige slap-oor donkies!

Teen die agtergrond van die persblou Riviersonderend-berge lê Greyton, 'n dorpie uit 'n prentjieboek, met die allermooiste grasdak-kothuise met tipiese "English Garden" – blombeddings en groentetuintjies, en leivore langs koel boomlanings .

Daar is tyd om eers om bene te rek in die natuurreservaat  teenaan die dorpie. Die wêreld ruik na roos, sering, denne  en heuningblom, na  kappertjies wat wild oor die leivoor tuimel.

Op pad terug, verby die Steenbrasdam wat kant en wal lê,  hou mens vir oulaas stil by Sir Lowry's se uitkykplek waar jy saam met die bobbejane op die klipmuurtjie uitkyk oor die unieke panorama daar ver onder : Gordonsbaai en Strand, die Helderberg-kom, Vergelegen se wingerdheuwels,  ons mooi blou Valsbaai, en die Kaapse skiereiland, deinserig op die horison.

Magda se Kaapse Draai...

Kuspad langs: Clarence-rylaan bo Chapmanspiek

Vanuit  die neerdalende vliegtuig op pad Kaapstad-lughawe toe, sien mens die R44 waar dit die N2 kruis, soos die kromminge van 'n reuse-voël se vlerke, na links en regs uitgestrek.

Die ingerygde besienswaardighede langs hierdie roete sal nie maklik oortref kan word nie. Ons verkies vandag om links om te ry Kaap Hangklip en Hermanus se kant toe.

Besoekende vriende uit Duitsland mor omdat Chapmanspiek-rylaan dikwels gesluit is weens gevaarlike klipstortings teen die hellings af. Toemaar, troos ek, hier aan die oostekant van die Baai is netso 'n  rit langs die  lieflike Clarence-seekuspad(1998 ingewy).

Sondae is dit 'n breakfast run-roete, dus kies ons eerder 'n weeksoggend vir hierdie spesiale roete langs die see.

By afritjies hou ons stil om die oorkantste skiereiland wat helder teen die horison lê, deur die verkykers te bespied. Hoe mooi is die see se kartelwater wat so lekker Klaradyn dans in vele skakerings, darem nie!

Die Steenbras-staproete net om die draai van Gordonsbaai, van die monding al langs die rivier op.Dan volg Kogelbaai waar berg en see op 'n wye wit strand ontmoet ,  'n fotograaf of branderplankryer se droom. Ver in die agtergrond sien mens die unieke profiel van Kaap Hangklip wat ou seevaarders so verwar het.

Troppies Chachma-bobbejane wei ongestoord om ons rond; ek wys die bobbejaanproef-asblikmeganisme aan ons verwonderde besoekers uit .

Rooiels, die eerste dorpie op ons pad, se naam is afkomstig van die rooi-elsbome wat in die omgewing gedy en waarvan die wortels 'n besondere kleur aan die waterpoele verleen.

Buurdorpie Pringle-baai is 'n ideale wegbreekplekkie waar mens 'n lae profiel kan handhaaf, of soos sommige inwoners dit stel - onder die radar kan beweeg!

Kaap Hangklip wat die oostelike grens van Valsbaai aandui, spog met sy eie vuurtoring. Ons  bespiegel - hoe kom die hoë tregter witsand daarbo? Seker maar wind-opgeswiep deur die Kaapse Dokter!

Orals in die veld en teen die berghange padlangs, sien ons steeds tekens van die brandskade van twee jaar gelede - 'n hele paar huisgeraamtes staan nog netso ongerestoureer. Fynbos begin darem weer kop-uitsteek hierlangs - brand is glo  stimulerend vir oorlewing!

Dan kom Bettysbaai aan die beurt. Hier by die Harold Porter veldblom- en natuurreservaat wil ons eers ons dors gaan les by die koel teetuin voordat ons opstap na die pragtige bronskleurige watervalpoel 'n entjie op in die skaduryke Disakloof, vernoem na die inheemse rooi grondorgidee wat hier aard.  Die oranje bosse speldekussings en groot skilpaaie steel ons besoekers se harte.

By Stoney Point wag duisende pikkewyne ons nuuskierig in. Wat kom ons hier op hul terrain doen? Die Duitsers trek hul neuse op vir die sterk guano-reuk. Dis maar een van ons besondere Afrika-aromas, verduidelik ek. Die wrak van die walvisboot Balena is stille getuienis van die ou Suiderkruis-walvisstasie wat eens op 'n tyd hier bedryf is.

In Kleinmond se tuisnywerheid op die ou hawe koop ons vir ons gaste elkeen 'n sappige koesister - die lang Kaapse soort - en drink swart bitterkoffie op die rotse bo die water. Ai, klein plesiertjies vul 'n dag vol dankbaarheid!

Hermanus is ons eindbestemming. Dis nie meer walvistyd nie, maar die spesiale ambience van die plek verander nooit. Ons gaan stel ons gaste aan Grotstrand en Voëlklip bekend, maar die koue Kaapse seewater skrik hulle gou af.

Mens kom  Hermanus toe om vis en skyfies uit koerantpapier te eet, terg ek. Op die  klip-rusbankie by Walkerbaai se Boiling Pot word ons stil - elkeen besig met sy eie gedagtes en waardering van ons wonderskone Suid-Kaapse kus.