Thursday, 4 August 2011

Bessieplaas

‘n Mens het mos maar jou kortlys van spesiale spogplekkies wat jy aan binnelandse besoekers hier in die Boland wil wys. Vir my is die 'kersie op die Kaapse kroon' gepluk uit boord van eie kontrei, nl die Hilcrerst-bessieboorde , sowat 10 km buite Stellenbosch.

Hierdie geliefkoosde wegsteekhoekie is geleë in die Banhoekvallei, langs die landskapskone Helshoogtepas tussen Stellenbosch en Franschhoek.
Party  vakansiegangers jaag mos teen ‘n spoed langs die R310 om van die een  historiese dorp tot by die ander te kom en besef nie dat die eintlike verrassings langs verskuilde klein afdraaipaadjies net in die stilligheid lê en wag om ontdek te word nie.

Net verby die lieflike wingerde teen die hellings van Delaire-wynlandgoed, die  gewilde Tokara-restaurant en verskeie ander KaapsHollandse styl wynlandgoed,  sak die pad skielik af in so  ‘n laagtetjie; skerp links lê die halfversteekte afdraaipad na Raymond en Betty O ‘Grady se bessieplaas, Hillcrest. Let mooi op, ander is jy verby op pad Pniel en Boschendal toe!

Die Engelssprekende eienaars wat vasbeslote was om hul bessieplaas-droom te verwesenlik, het uitheemse  indringerbos uitgeroei en aangrensende plaasgrond aangekoop .Hillcrest-bessieplaas word die afgelope 18 jaar suksesvol ontwikkel en bedryf deur die O’Gradys wat die boorde deur die jare aangevul het om ‘n verskeidenheid kultivars, soos young-bessies,  "tayberries",  Kaapse appeliefies, brame,  frambose,  om maar 'n paar bekendes te noem,  in te sluit. 

Die bottel-verpakking word so aantreklik uitgestal en gerangskik; mens kan jou amper nie wegskeur van die rakke en vrieskaste vol heerlikhede nie!

Hierdie bessiesoorte word op verskeie maniere verwerk en bemark -  vars, bevrore, as konfyte , stroop, jellies,  likeur,  of  as bessie-asyn  wat landswyd in  kwaliteit-supermarkte met deli-afdelings aangetref kan word. Ingevoerde en plaaslike gourmet-olyfolies en kersies pryk ook aanvullend op die rakke. Cranberries (rooibosbessie) aard glo nie te goed hier nie , maar die heerlike ingevoerde produk is wel beskikbaar.

Hillcrest is heelwaarskynlik die plaas met die grootste verskeidenheid bessies te koop in die land. Hoofsaaklik organiese metodes word aangewend by die produksie van hul boorde. Sedert die draai van die eeu  is vyebome, kweper-, pruim- en koejawelsboorde as  nuutste toevoegings ook eksperimenteel aangeplant. 
  
Hoogliggend en versteek agter lieflike geel en wit roosbosse, is daar ‘n ruim , koel teetuin  met ‘n keuse van sitplekke binnenshuis of buite onder sambrele, wat uitkyk op die manjifieke bergreekse van die Groot Drakenstein- en Jonkershoek .

Voor jou in die laagtetjie lê die Banhoek-vallei , ‘n landskapskone gesig wat jy nie maklik sal vergeet nie, en wat jou elke seisoen sal terugroep met sy veranderende wingerd-kleurespel.

Om hierdie redes dan , is Hillcrest ons nommer een spogplekkie.- ons 'Kersie op die Kaapse Kroon'. Hillcrest se tuisblad-embleem toon toevallig ook 'n kroon!

Dit was sekerlik die sukses van hierdie unieke, romantiese teetuin wat aanleiding gegee  het tot die groot aanvraag na ‘n verskeidenheid unieke bessie-produkte.

Die twee selfsorg kothuise en kamers is hoogs aan te bevole vir ‘n lekker naweek- wegbreek na berg en boord. Wandelings in die werkende boorde en langs die Simonsberg- staproetes kan vir verblyfgaste , of per afspraak vir besoekende groepies gerëel word. Die akkommodasie , restaurant en teetuin is rystoel-toeganklik.

Onthou tog om  by jou volgende Kaapse besoek af te draai by Hillcrest en  jouself  te trakteer op ‘n aptytwekkende  gesondheidsontbyt, dekadente kaaskoek met bessie-coulis, room-en-bessietertjies, heerlike aromatiese koffie, of suiwer bessiesap.

Sowaar, geen besoeker  kan  ‘n geskenkie of twee van die wonderlike plaaslike lekkernye tussen die bessieprodukte en olyfolies weerstaan nie. By vertrek koop jy sommer 'n armvol bergproteas ook .Gaan doen gerus jou  heerlike bederf-inkopies vir geliefdes  tuis by Hillcrest voordat jy weer moet terugvlieg noorde toe.



‘n Mens het mos maar jou kortlys van spesiale spogplekkies wat jy aan binnelandse besoekers hier in die Boland wil wys. Vir my is die kersie op die Kaapse koek gepluk uit eie boord, nl .die Hilcrerst-bessieboorde , sowat 8 km buite Stellenbosch.

Hierdie geliefkoosde wegsteekhoekie is geleë in die Banhoekvallei  langs die  lansdkapskone Helshoogtepas tussen Stellenbosch en Franschhoek.
Party  vakansiegangers jaag mos teen ‘n spoed langs die R310 om van die een  historiese dorp tot by die ander te kom (Stellenbosch en Franschhoek) en besef nie dat die eintlike verrassings langs verskuilde klein afdraaipaadjies lê en wag om ontdek te word nie.

Net verby die lieflike wingerde teen die hellings van Delaire-wynlandgoed, die  gewilde Tokara-restaurant en verskeie ander KaapsHollandse styl wynlandgoed,  sak die pad skielik af in so  ‘n laagtetjie; skerp links lê die halfversteekte afdraaipad na Raymond en Betty O ‘Grady se bessieplaas, Hillcrest. Let mooi op, ander is jy verby op pad Pniel en Boschendal toe!

Die Engelssprekende eienaars wat vasbeslote was om hul bessieplaas-droom te verwesenlik, het uitheemse  indringerbos uitgeroei en aangrensende plaasgrond aangekoop .Hillcrest-bessieplaas word die afgelope  twintig jaar suksesvol ontwikkel deur die O’Gradys wat die boorde deur die jare aangevul het om ‘n verskeidenheid kultivars, soos young-bessies,  "tayberries",  Engelse appeliefies, brame,  frambose,  om maar 'n paar bekendes te noem,  in te sluit. 

Die bottel-verpakking word so aantreklik uitgestal en gerangskik; mens kan jou amper nie wegskeur van die rakke en vrieskaste vol heerlikhede nie!

Hierdie bessiesoorte word op verskeie maniere verwerk en bemark -  vars, bevrore, as konfyte , stroop, jellies,  likeur,  of  as bessie-asyn  wat dikwels in die  kwaliteit-supermarkte met deli-afdelings aangetref kan word. Ingevoerde en plaaslike gourmet-olyfolies  pryk ook aanvullend op die rakke. Cranberries (rooibosbessie) aard glo nie te goed hier nie , maar die heerlike ingevoerde produk is wel  beskikbaar.

Hillcrest is heelwaarskynlik die plaas met die grootste verskeidenheid bessies te koop in die land. Hoofsaaklik organiese metodes word aangewend by die produksie van hul boorde. Sedert die draai van die eeu  is vyebome, kweper-, pruim- en koejawelsboorde as  nuutste toevoegings ook eksperimenteel aangeplant. 
  
Hoogliggend en versteek agter lieflike geel en wit roosbosse, is daar ‘n ruim , koel teetuin  met ‘n keuse van sitplekke binnenshuis of buite onder sambrele, wat uitkyk op die manjifieke bergreekse van die Groot Drakenstein- en Jonkershoek .

Voor jou in die laagtetjie lê die Banhoek-vallei , ‘n landskapskone gesig wat jy nie maklik sal vergeet nie, en wat jou elke seisoen sal terugroep met sy veranderende wingerd-kleurespel.

Om hierdie redes dan , is Hillcrest ons nommer een spogplekkie.- ons 'Kersie op die Kaapse Kroon' . Hillcrest se tuisblad-embleem toon toevallig ook 'n kroon!

Dit was sekerlik die sukses van hierdie unieke, romantiese teetuin  wat aanleiding gegee  het tot die groot aanvraag na ‘n verskeidenheid unieke bessie-produkte.

Die twee selfsorg kothuise en kamers is hoogs aan te bevole vir ‘n lekker naweek- wegbreek na berg en boord. Wandelings in die werkende boorde en langs die Simonsberg- staproetes kan vir verblyfgaste , of per afspraak vir besoekende groepies gerëel word. Die akkommodasie , restaurant en teetuin is rystoel-toeganklik.

Doen jou gaste volgende keer ‘n spesiale guns.en trakteer hulle met ‘n aptytwekkende  gesondheidsontbyt, dekadente kaaskoek met bessie-coulis, room-en-bessietertjies, heerlike aromatiese koffie, of suiwer bessiesap.

Sowaar, geen besoeker  kan  ‘n geskenkie of twee van die wonderlike plaaslike lekkernue tussen die bessieprodukte en olyfolies weerstaan nie. By vertrek koop jy sommer 'n armvol bergproteas ook .Gaan doen gerus jou  heerlike bederf-inkopies vir geliefdes  tuis by Hillcrest voordat jy weer moet terugvlieg noorde toe.

Wednesday, 3 August 2011

Skulpe vir die kersboom

Skulpe vir die kersboom


Kerstyd kom maak die binnelandse familie mos graag ‘n Kaapse draai  hier na Strand se kant toe, suid-oostewind, of te nie! Ons gun hulle dit, maar mens moet maar al jou “wits” bymekaar hou om hierdie tsunami-uit-die-noorde voorbereid die hoof te kan bied!

Teen Desembermaand sien oupas en oumas darem mos weer uit na ‘n besoekie van die kleinkinders. Ons twee oues van dae het vier van hulle - tussen sewe en elf jaar oud. Gesamentlik vorm  die viermanskap ‘n formidabele alliansie, dus verkies ons om hulle eerder twee-twee in te wag vir hul see-vakansie. Twee is darem heelwat makliker hanteerbaar as vier ; ‘n mens kan meer aandag skenk aan hulle veeleisende en uiteenlopende  “likes and dislikes”, veral as dit by kos kom! G’n twee ma’s maak hul kinders dieselfde groot nie – daar’s mos maar altyd daai “sibling rivalry”, by gebrek aan ‘n lekker Afrikaanse woord!

Oupa is die voorsiener en moet sorg dat die koskas vol is ; hy begin al van Oktober voorraad van die supermark af aandra.Ouma sal uiteraard weer die belangrike rol van storieverteller, weerligafleier en sieketrooster moet vervul; sy’s die een wat planne moet beraam om magies vol te hou en die gretige handjies vol en besig.

Maande voor die tyd begin Ouma See (dis nou ekke), ook allerlei goedkoop voorskoolse speelgoed  uit Crazy Store bymekaarmaak – speelkaarte, inkleurboeke, koki’s, , boublokkies,strand-emmertjies en –grafies. Vir die  noodsaaklike stiltye vorentoe, wanneer jy smiddae jou siel en jou seer rug ’n bietjie wil laat rus op die katel, skaf jy ‘n paar DVD’s aan of neem video’s op. Hier maak jy staat op die tegnologie en die elektronika as jou trawante.

Gelukkig is die strand hier voor ons,  darem ook ‘n ware uitkoms!
Toe ek nou die dag afbuk om 'n besonder mooi perlemoenskulpie op te tel , flits daar 'n paar briljante “brain waves”  deur my kop: Kleinkinders kom een van die dae kuier. Kleintjies hou mos van skulpies. Kinders sien heeljaar uit na  hul  volgende kersboom-by-die-see.. Ouma moet die “kiddies” besig hou terwyl Ma en Pa boeklees of gaan golf speel. Wat van skulpe vir die kersboom?

Ons stap elke dag strandlangs en neem die mooi uitspoelskulpe so vanselfsprekend; hulle is mos maar daar . Tog is die een kunstiger geskep as die ander, elkeen met sy unieke patroon, glans en kleur - en met 'n misterieuse geskiedenis van oorsprong ,lewensiklus en verganklikheid diep in die see.
Net daar en dan besluit hierdie ouma hoe sy die voorskoolse handjies kan besig hou - die mooiste skulpe kan bymekaargemaak word op 'n 'skattejag', dan gewas en drooggevryf, om verder met goud en silwer kinderverf en glitter versier te word. Lintjies vir die deurryg. Goedkoop en maklike kersversierings! Om die waarheid te sê,  ek moet erken dat ek nog nooit 'n skulpversierde kersboom gesien het nie. En waarom dan nie? Gebruik wat voorhande is en omskep dit in iets en wat ure se plesier sal verskaf! Dit sal sekerlik as Ouma See se spesiale see-kersboom onthou word.

Oupa kan  gaatjies boor en klein  vingertjies kan die vislyn of lint deurryg en ophang na hartelus. Ons kan pêrelkraletjies of muntstukkies in toeklap-vlinderkulpies versteek, perlemoerhangertjies maak, windklokkies inryg. By die kersboom sal ons elkeen 'n skulpstorie moet vertel wat ons self uitgedink het – skulpe, die wonderlike '"survivors" van die see!

Vandag nog begin ek my plan in werking bring - drie skinkborde vir die morsigheid, my ou skilderkwassies, botterbakkies en  bottelproppe  vir verfhouers en blinkertjies, boksies vol ou kraletjies, 'n skêr, kerslint en ‘n koeksel vislyn. Ek dink sommer ook 'n klompie maklike skulp-raaisels uit, om binne in mosselskulp toe te bind.

Raai, ek dink ek begin al regtig weer uitsien na hierdie besige somervakansie!

Mangwanani

‘ n  Dag se uitspa(n) by Mangwanani

“Mangwanani!”. In die Shonataal  en met trombegeleiding word ons ‘n goeie dag toegewens deur die ry terapeute in kleurvolle etniese uitrustings en kopdoeke geklee.

Die leuse op die spa-brosjure lui: “Waar die aanraking van ons voorvaders steeds deur ons vingertoppe vloei” . Ek verkies egter om daarna in my eie taal te verwys as Die Plek van Helende Hande.

’n Vrugtesappie of sjampanje en ontbytversnaperings smaak vorentoe en jy sien uit na die opwindende bederf wat volg.

‘n Volle dag se gepamperlang wag vir gaste wag by hierdie gesondheids dag-spa  in die omgewing van Hennopsriviervallei, langs die R511.

Gaste word vroeg-vroeg opgepik by Monte Casino en per bussie vervoer. Ek was verbaas om sommer ‘n hele klompie manne tussen die dames te sien , gereed vir ‘n dag van algehele ‘revitalisasie’!

Mangwanani is een van ‘n groep van agt dagspa’s wat ses jaar gelede deur Erin Limbert in die lewe geroep is as projek vir die opleiding van, en werk-verskaffing aan vroue uit die plaaslike gemeenskap, sodat hulle hulself terselfdertyd as broodwinners kan bekwaam en ook later aandeelhouers kan .

Die etniese personeel is verteenwoordigend van die Shona-, Ndebele-, en Tswana-groepe wat in die  Atteridgeville-omgewing woonagtig is.

Onder die bekwame leiding van ‘n Sessiebeplanner word die verskillende behandelings gesinkroniseer – hierdie hut vir  ‘n drukpunt- gesigsbehandeling, daardie een vir die kop-en-skouermassering. Daarna volg die massering van hande en voete,  ‘n vollyf-behandeling met  of sonder warm ronde klippe, ‘n lekker afkoel in  die jacuzzi, en dies meer 

Verskuil tussen die ruie bos en plantegroei langs die Hennopsrivier,

merk jy die afsonderlike rietdakkies wat dien as terapie- salonhutte op Afrika-styl. Uit met jou slonsklere en in spierwit japonne, pantoffels en handdoeke!

Vriendelike opgeleide terapeute in swart en oranje livrei-drag versier met kralewerk, werk op rotasiebasis aan verskeie masseringstegnieke.
Growwe sout, suiker, mieliemeel en allerlei verskeie plaaslik-vervaardigde aromatiese olies , (sesame, amandel, roos en laventel) word aangewend. Jy voel sommer hoe al die opgegaarde giftige toksines uit jou sisteem uitgevryf word! Elke gas kry ‘n waterbottel as aandenking en die reël van die dag is :”Drink baie water!”

Tussenin kry jy kans om te smul aan ‘n gesonde en keurig-voorbereide middagete en later ‘n welverdiende soetigheidjie as middagversnapering.

Ander pakkette wat ook aangebied word, is die romantiese Maanlignagspa (voete/lyf/kop)  of die Marula Bridal Spa wat gewild is onder paartjies,  ‘n Nomadiese  African Touch-terapie-groep wat na funksies uitbeweeg, Mangywanani-Corporate wat op versoek mini-spa’s inrig vir korporatiewe groepe, asook ‘n wonderlike nuwe  inisiatief, nl.  die New Mom and Bush Baby Spa  en Expectant Mums Spa.

‘n Laaste ‘dippie’ in die jacuzzi wag en jy geniet vir oulaas  ‘n glasie Amarula.  Pootuit van al die bederf sus die bussie terug Monte Casino toe, jou gou vas aan die slaap. 

Uitwyk na Zebula

 
Waar ‘n Kapenaar weer kloutjie by die oor kon bring...

Ons het die oorgang van 2007 na 2008 oorbrug saam met die volmaan net anderkant Bela Bela se ruigtes en lowergroen bosveld; meer spesifiek by Zebula, waar ons kinders ‘n nuwe bosveldhuis saam met familie wou inwy. 

Die eksentrieke Kaapse suidoos sou tydelik vir die charismatiese hoëveldse donderweer verruil word. Kom waardeer gerus die bosveldnatuur deur 'n uitgeweke Kapenaar se oë! Hoe sou die afgelope somervakansie bydra om vir ons uit die suide weer vir ‘n slag die ‘kloutjie-by-die-oor’ te bring?

Ek moet erken, my hart het weer tussen die doringtakke gaan vashaak soos die geelryp nuwejaarsmaan.
  
Zebula is 'n vyfster golf-oord aangrensend met die wildreservaat Mabalingwe, op die Rooibergpad Waterberge se kant toe.  Padlangs , hier in "die ou Transvaal" , het ons ons opnuut  verwonder aan die ywerige ekobewaring : natuurreservate, wildsplase, etniese Afrika-padstalle, lowergroen kwekerye met inheemse loof, en bosveld-ontspanningsoorde, wat alles mos bydra tot die bewaring van ons Afrikaners se bos-kultuur.

Allerlei aardse geure versterk gou-gou weer jou ou verbintenis met die veld - songebakte grondpaaie, aromas van kakiebos, veldgroen en wild, varsgedekte grasdakhuise, 'n braaivleisrokie...

Mens vergeet hier alte gou van jou dagboek, rekenaar, selfoon en TV, want hier skakel jy af en beweeg na buite . Veldfietse en verkykers word uitgehaal, natuurgidse oor voëls en wild word oopgeslaan. Lysies en prentjies van goggas en goeters, spore, bome en sade, word ywerig afgemerk. Ons stap en speel weer saam met ons kinders.

Vroegoggend of laatmiddag word opsygesit vir voël- en wildbesigtiging langs grondpaadjies die ruigte in met ‘n gholfkarretjie, te perd of in ‘n safari-voertuig . Kinders leer gou om doodstil te sit by die uitkykplekke langs die watergate. 

Waterbokke, kameelperde, wildebeeste, koedoes, moontlik ‘n  troppie meerkatte, ‘n paar fisante of alleenloper volstruis , kom onverwags oor jou pad , kyk jou reguit in die oë en doen mensbesigtiging! Die ongeërgdheid en gemak van die verskeidenheid wild val ons op -  seker vanweë die afwesigheid van groot roofdiere.

Landgoed-bosveldhuise kan gehuur word vir verblyf, maar intussen skiet privaat grasdak-lodges soos paddastoele op, gelukkig darem ver uitmekaar Tentkampe en oornag-safari’s kan ook gereël word vir geleentheid- of naweekbesoekers .

Om die boma speel die kleintjies vroteier en wolf-wolf-hoe-laat-is-dit; hulle dans en toor met grashalmliggies wat hul aansteek uit die bosveldvuurtjie. Die paddakoor maak ons saans stil met hul repertoire en die aandprogram van donderweer en blitse oor die Waterberg-horison hou ons vasgenael op die uitkyk-stoep.
  
Vir die vermaak van groot en klein,  spog Zebula onder andere ook met die sg. grootmaak-kampe vir Bengaalse tiertjies en leeuwelpies, waarmee kinders van naderby kan gaan kennismaak, asook opwindende cheetah-wedlope, saans teen kosgeetyd. Die cheetah-kamp is net 'n lekker stappie óm na die anderkant van die pragtig-gemanikuurde golfbaan. In die rustige spa-tuin kom drie mak bokkies appels uit jou hand hap. Watter kind kan na al hierdie opwinding nou aanhou en uithou tot laataand? Een vir een val helde van die dag om... 

Ywerige pa's speel golf op die vyfster-baan en afgeskakelde ma's bederf  hulself by die gesondheidspa. Oupas kry tyd om saam met die kleinman by die watergat te hengel met slap spaghetti aan die hoek , of stap veldlangs vir  “I spy!”; oumas skilder interessante boomkarakters en bederf kleingoed met eetgoed.

Wat wou hierdie ou Kapenaar vir Krismis hê? Net 'n 'properse' donderstorm met weerlig, dankie, want dis so skaars in die Kaap soos snoek in 'n Transvaalse plaasdam! Gelukkig staan elke grasdakhuis in Zebula met sy trotse weerligafleier gereed vir die wis en onwis van die weer. Die hoop het my ook nie beskaam nie. Daardie aand maak ons letterlik en figuurlik dak nat met reën en Amarula en doop die bosveldhuis  Babawingle, ‘n klankverspringde variasie van Mabalingwe, soos ons driejarige kleindogtertjie dit vernoem het.

Op Kersdag is ons kersboom 'n simboliese droë doringtak, versier met kinderlike veld-dekor : blaargroen, ystervarkpenne, gevlegde grasversierings, tarentaalvere, vlindervlerkies. 

Ons sit Nuwejaarsdag om die massiewe gesinstafel, kunstig en eensoortig-uniek gemaak uit 26 inheemse Transvaalse houtsoorte ,  met houtstompe as voetstukke, en al! Elke boomsoort wat verteenwoordig is, se pragtige Afrikaanse naam uit die veld en volksmond is onopsigtelik kunstig aangebring op die blad.

Tyd staan hier stil - kan dit werklik al agt jaar na die draai van die eeu en ons verhuising Kaap-toe wees?  Dit voel presies soos dertig jaar gelede se Bosveld  -  die ambience is nog net dieselfde.

Sou die Gautengers wat afgesit het Kaap toe , hul  somervakansie by die see netso geniet  het as óns wat die pas afgelope jaar vir ‘n verandering die nostalgiese pad noordwaarts gekies het?



Sederberge

Waar 'n Seder nog vastrapplek kry .


Dis doodstil buite in die bergveld en jy kan jouself hoor dink.Twee gedagtes kom by 'n mens op as jy die verstommende rotsformasies, rotsskeure, reuse-gestapelde klippe, pilare en kolomme, kranse en ravyne om jou sien - hoe het dit alles tot stand gekom, en hoe lank  al?

Einstein het gesê dat verbeelding belangriker is as kennis, dus, by gebrek aan 'n geloofwaardige antwoord, laat jy toe dat die natuurwonder jou maar oorweldig; jy gee vrye teuels aan jou verbeelding.... Dis mos die wêreld van  C M van den Heever se "ruwe rotse", "draketande"en "klippekake"!

Daar teen die horison staan die verweerde  ruïnes van 'n antieke 'stad', verder weg toring 'n gefatsoeneerde weergawe van 'n ou 'fortkasteel' of  'katedraal' uit . Jy sien gesigte, profiele, gediertes in die klip- en rotsformasies, en jy wens meteens jy was 'n bobbejaan of 'n dassie of 'n  akkedis wat die vryheid van die rotsveld het. Dalk 'n suikerbekkie tussen die blombosse! Deur 'n verkyker volg ons die draaivlug van 'n roofvoel op 'n lugstroom hoog bokant ons koppe wat met sy skerp oë iets bespied wat ons nie kan sien nie.

Uit die verweerde rooi en geel rotswande, so verkleur deur ysteroksied, syfer bergwater wat sulke lang nat strepe teen die rotswande laat.  Dit was 'n besondere goeie reënjaar, maar ek wonder in my enigheid hoe geweldig warm en droog 'n Kaapse somer hier in die klipwereld moet wees!

As ek jonger en fikser was sou ek nie geskroom het om een van die voetpaaie op die menigte wildernis-staproetes aan te durf of dalk in 'n hut of grot te oornag nie. Hier lê die avontuur en die vryheid van die onbekende vir jou en wag,  met 'n verrassing of twee in 'n grot of klipskeur - dalk 'n 'vars' onontdekte  San-rotstekening?

Ons kan egter stilhou, sodat ek 'n entjie berg-op kan stap met my staatmaker-Crocs om te waardeer wat in die veld voor my voete lê en tussen die rotse wat langs my uittroon, groei. Ek tel sestien spesies skugter veldblommetjies op sowat een vierkante meter gruisveld. Ek sien 'n sederboompie wat uit 'n rotsgleuf groei en na buite beur en lê dit digitaal vas as voorbeeld van die onstuitbare natuur se vindingrykheid ter wille van oorlewing. Hoe sien hierdie beurende sedertakkie dalk oor 1000 jaar daar uit?

Is hierdie miskien Louis Leipoldt se geliefkoosde Hantam waar " 'n handvol gruis en gedroogde blare" hom so "koning-ryk" laat voel het?
 
Toe ons begin September 'n mooiweer-gleufie kry,  was dit vinnig inpak om te ry vir blomme-kyk in Clanwilliam se wêreld. Ja, ons het ons natuurlik verlustig aan hierdie seisoenale kleureprag, maar nadat ons versadig gekyk was,  het daar 'n bonus gewag! Die formidabele klipkoninkryk van die Sederberge het vir 'n verdere blywende impak gesorg.

Net buite Clanwilliam begin die sinkplaatpad berg-op wat jou motorvoertuig tot die uiterste beproef. Mens kners op jou tande maar ratel vasberade voort  teen twintig-dertig kilometer per uur , maar die Pakhuispas moét jy uit!  Hoe dan anders, hier op die bergpas in die klipperige Sederberge sal 'n teerpad mos heeltemal onvanpas lyk en motoriste sal reguit verbysnel Biedouwvallei toe.Die growwe pad maak jou nederig en jy moet teen wil en dank stadig ry om die Sederberge ten volle te kan waardeer.

Dan spoed 'n 4x4 onbedagsaam  in 'n warrel wit stof by ons verby .Ons rem en gly tot stilstand oor die gruis. Ons besluit:"Ag, wat, 'n koppie tee sal nie sleg smaak terwyl ons wag dat die ergste stof gaan lê nie!"


Wynland, Valsbaai, Voorstedelike trein

Padlangs, Wynland-in

Op die R44 sjoess voertuie by my verby ten spyte van die herhaalde spoedaanwysings. Agter ‘n stuurwiel is ek egter die spreekwoordelike sagmoedige Neelsie self. Observeer, observeer, observeer is deur my kinders se K53-bestuursinstrukiteur ingedril en mettertyd by my ook ingeprent. Dus neem  my observasie-mode oor . Ek kies egter wát om te observeer en bly maar in die stadige linkerbaan. Ek gun  myself die genot om die prag en varsheid weerskante van die pad te waardeer.

Hier van die Strand se kant af, omvou ’n wolkedons die Helderberg  vanoggend  vroeg nog rosig sag. Dan skielik, skerpglinsterend , verblindend , groet die môreson my as hy onaangekondig uitloer oor die heuwel. Nou weet ek mos waar die landmerk van die Kom sy naam vandaan gekry het! Ek vroetel in my handsak na my donkerbril.

Padlangs pryk wynlandgoed trots - Stonewall, Sweetwell , Nietvoorbij, Avontuur. Mý avontuur padlangs het begin. Ek tintel en gryp die dag soos hy langs die teerpad oopvou.

’n Komposhoop lê dampend in die vroegoggend-kilte . Ry op ry wingerd staan hoopvol klaar en wag op die laatsomer-oesbevel.’n Spogperd met rugjakkie pronkgalop in sy netjiese kampie. Winkelpop-voëlverskrikkers by die Mooiberge-padstal pas rye rooiryp aarbei op. ‘n Skaar aarbeiplukkers reeds gebukkend besig met hul dagtaak. By Bitterbessie-kwekery se afdraaipad kreun ‘n trokvol blomme kleurvol die grootpad in . Pretdag-drawwers sukkel swetend op- en afdraand uit.

Ek draai af in Dorpstraat. Onder koel eikelanings in die Eikestad dartel bruin akkerblare ritselend in ’n laaste dans om die enkels van tannies met wandelstokke , buitelandse toeriste en studente, en dryf dan  dan liggies leivoor-af  na êrens. Vanaf sy uitkykplek op ‘n gewelhoek bespied ’n parate bosduif my skuinskop, koergroet en skud sy vere reg. Sy.gespikkelde maters wei tussen soetigheid wat die pers jakaranda mildelik uitstort in Stellenbosch se Van Riebeeckstraat.

Ek hoor Adeste Fideles sag in die agtergrond by die gemeentelike November- kersmark en ek kies uit rakke vol talent ‘n engel van fynbos as kroon van die kersboom vir ons eerste kleinkinnerkind

Halfpad Helshoogte uit teen die hang ontdek ek die bessieplaas . Ieder en elk word uitgenooi :

daar’s bessies om te proe
kom kies en keur
ook druif
amandel en olyf

Padlangs suidwaarts terug lê blou teen blou, ’n sonnighelder Valsbaai .Ek draai my venster af. ‘n  ligte Suidoos  heraldeer die aantree van volsomer en die soutbries van die see af prikkel my neus. Aa!  Ek adem diep . My geoefende neus ruik vandag seebamboes en mosselskulp. Voor my wieg die see saggroen en wit. Om die Helderkom vou berge deinsigblou, met die Hottentotsholland sagkens toegevou in sy wolkekraag van belofte.


Sondagmiddag:Valsbaai                                                                                          

Dis laatmiddag. ‘n Handvol vere pof uit tot ‘n donsige kraag gedrapeer oor Hottentotsholland se skouers. Vanaf die Steenbraspad se uitkykkrans,  lê Valsbaai se kartelwater laat vanmiddag sereen en stil in ‘n winkelhaak-omhelsing van bergkrans tussen Hangklip en Kaappunt.

Ek kan met die oog die sierpatroon volg van seestrome tot hieronder by Bikini-baai waar skuimbranders sagkens oor die rotse streel.  In kolle skadu van melkhoutbome skrop vakansiegangers nog vir oulaas ‘n luilekker-lêplek in die sand en pak piekniekmandjies in. Hieronder by Gordonsbaai kompeteer waagmoedige regatta-seilskepies vandag heeldag om ‘n voorste plek, nuuskierig vergesel van ‘n skool speelse dolfyne wat vinvlugtig klief, duik en saamseil.

Laag in die Helderberg-kom damp prismakleure in ’n reënboog op. Skarlaken, pienk en pers, geel en groen vloei ineen tot ‘n breë seintuur van opwinding en belofte. Ons ry terug berg-af, onderdeur die koepel van kleur en ek besef meteens: sowaar, hier is mos óns pot goud.

Die son sink laatmiddag skarlakenrooi terug op die horison se skouers; dit word ‘n donker,  vergulde silhoeet  ‘n Deinserigheid daal tussen die laaste flarde  wolk, room en rosigpienk. Die misterie van die perspienk hange word beklemtoon deur grys en diepblou skadu’s.Ver diepsee in lê die horison van skiereiland en see nou skerp afgeëts - ‘n donker streep baftablou. Teen skemeraand begin flonkerliggies  verraai waar Vishoek, Kalkbaai, Simonstad verskuil lê.                                                                     
Ons Valsbaai - ankerplek en speelplek van rob en pikkewyn tussen seebamboes en bruingety,  aardplek van die aronskelk  en hotnotsvy op  duineveld langs melkwit halfmaanstrande.

‘n Seemeeu vlieg laag - ‘n spatsel wit op die wieke van die wind.

Waar in die wye wêreld sal Willem Wouter dan anders wil woon?
                                                                                      
Voorstedelike trein

Ek wag alreeds teen halfsewe op Strand-spoorwegstasie, die eind- en beginpunt van ons voorstedelike trein. Dis tyd. Dieselfde klein groepie werksmense mik na die voorste eersteklaswa. Hier sal daar darem nog heel  treinruite wees en die sitplekke se meswond-letsels is darem gewoonlik netjies toegewerk.

Ons klik-klik dampend die daeraad in. Die nagdou glip nog in koel straaltjies teen die taai treinruit af. Op stasies soek passasiers  skuiling teen die kilte van die oggendwind. Wanneer die treindeure outomaties oopskuif, vul sitplekke vinnig en gesprekke begin vlot. Ek merk onderlangs vlugtige oogkontak, ‘n ontwykende blik, stiltes en swye, stiltetye. Passasiers sit eenkant kouend aan brokkies ontbyt, rokend in rook verbode, gapend, slapend, lesend aan graffiti teen die duikwegmuur.

Waens glip verby - geel-en-grys-geel-en-grys-geel-en-grys. Langs die spoor strek die teerpad blinknat. Deur die mistigheid flonker ‘n paar straatligte nog  flouerig aan lamppale tussen grasdak-kothuisies, hurkend, styf teenmekaar. Sterkstam Pierneef-denne trotseer die koel wind wat skuins-oor waai.

In Kuilsrivier-kanaal lê rommelgoed soos vomeersel uitgespoeg , maar genadiglik word dit weer afgewissel met vleie vol spierwit aronskelk  en  ry op ry jong wingerd wat reeds bot. Die hoop beskaam nie.

‘n Treinglipper, met wolmus en sweetpak, promoveer homself flink uit die derdeklas-wa en staan met plastieksak en druppende sambreel naby aan die deur -  reg om uit te spring as die inspekteur in sy rigting sou beweeg.

Tussen stasies betreur ek armoedige plakkerskamp op swaarmoedige plakkerskamp, en bejammer ook in my enigheid die arme  begrafnisbeeste wat in klein modderkampies hul lot netso onbeskut in die reën moet afwag.

By Thornton lê die grafte ry op ry kilometers aaneen - Christen Jood en Moslem - apart, gesegregeer, maar almal saam oor dieselfde kam geskeer, lankal stokstyf dood. Ek trek my serp stywer hoër oor my ken en oë op - tyd om weg te sink terug in myself; tyd vir eie kommerkrale rol.

‘n Wolkbank hang vanmôre laag teen die skuinste van Tafelberg. Aan verwaarloosde skrootwerwe herken ek die agterkant van Kaapstad  -  ook maar net nóg ‘n stad met Goliat-geleiers, vuil fabrieksterreine, ‘n slagveld van gesneuwelde plastiek, vasgewaai en vermink teen skerp palmtakspeke en spiraalheinings van doringdraad wat ironies genoeg ànder euwels moet uithou!

Dan spoeg die trein ons uit op Kaapstad-stasie en begin ons skarreling soos vliegmiere na die naaste lig...





                                                                                                                                                      

Strand

My lappie aarde 

Vlak by die see, teen ‘n wolkbehangde Helderberg en die grysblou Hottentotsholland ,vind jy die  verhoog van my lewensteater. Op hierdie lappie Mediterreen waar die baai in die winkelhaak-omhelsing van die skiereiland lê, deel ek  my seëninge daagliks in monoloog met die Skepper - soms spontaan luidkeels of andersins net in stille gebed binnewaarts.

In die ligte oggendwasigheid begin my dagbedryf, in die somer se middaggloed ontvou die storie van my dag en in die koelte van die aand se seebries mymer ek oor die afloop daarvan.
100 tree van my voordeur af lê die hooggety se visite-kaart - uitskot wier , skulp en seebamboes,‘n deurskynende jellievis, impotent onderstebo. Die daeraad is rosig, die soutlug sag - ek proe dit op my lippe en voel dit aan my wang.

Dit kos fyntrap oor die knarsende somergras se duwweltjieveld na die voorduin. Hierdie is strand-kiewiet se afgebakende  terrein; jarelank al skel geslagte kiewiet-pare skerp en skril en kamikaze-duik hulle venynig op my onskuldige laphoed af om my te verwilder as ek te naby aan hul spikkel-eiers in die vlak nes kom. Ek wonder dikwels in my enigheid of dit is omdat daar van hulle dalk ook krombeen, seer en alleen is , en of hulle maar net bedreigd voel dat ek hul hoop en drome sal stukkend trap. Of is dit maar net omdat hulle swart en wit is en ek in kleur?

As die môredou soggens nog koel en vars op my voortuin lê, begin die spikkeltarentaal in grys, gebukkende troppies skarrel en skrop - die witte behoedsaam eenkant. Soos ‘n wafferse generaal sit my gemmerkat penregop op die stoep en steur hom kamtig nie aan die trop gevleuelde kuiergaste nie; naderkruip sal hy egter beslis nie. Hy het mos al ‘n dure les geleer -  die oppassers is verbete veiligheidswagte.
                                                                         
In die voor- en najaar draf die pare tarentaal onvermoeid tot vervelens toe op en af voor die huis verby in ‘n spel van ‘jagentjies’. Soms kom ek af op  ‘n klos bontgespikkelde vere vasgefladder teen die hotnotsvy of selons, stille getuienis van ‘n nagtelike afspraak met die omgewing se rondloperkat. Ek bêre afgelegde tarentaalvere as bladaanwysers , gebruik dit vir groetekaartjies, of ryg hulle vas aan my wind-woerwoer wat aan die groot ou  melkoutboom se droë tak.hang.

Op my voorstoep pryk my uitstalrak - alles optelgoed van ‘n strandloper: opgerolde, nuttige vislynwaaraan ek ure lank geduldig sit en ont-‘koek’ het, asbakkie-perlemoer, ‘n verskeidenheid van klein, groen seepampoentjies, ‘n verwaaide vlieër met ‘n misterieuse grynslag en reënboogstert. Soms as die bries net reg is, waag ek my hand aan die vlieër. In die lokval van die wind sal hy dans en tol en sy stert parmantig swiep. Of  hy sal moedswillig uit pure protes die tou uit my hande wil ruk - hoër sterker, verder,  totdat ek hom met my wil afwaarts manipuleer en weer netjies inkatrol.

Vanaf my klipstoep sien ek ‘n spierwit seemeeu sy vere regskud op die natbruin rots. Twee bruinvissermanne met seestewels staan daglank geduldig in die vlak deining. Deur my verkyker bespied ek die kartelwater van seestrome wat saamvloei in wisselende patrone en skakerings blou. Ek gesels intiem met die see: “Wil jy wals vandag in koningsblou, Klaradyn, of wil jy tango,en verleidelik swaai in ‘n sensuele samba op maat van die wispelwind?” Ek geniet die speelse rob of dolfyn, die vinvlugtiges, en verwonder my aan die kwistige kleurpalet van die meesterlike sonsondergange oor die Kaapse skiereiland. Laatmiddag sak die son skarlakenrooi agter die westerkim weg en lê daar net ‘n donker silhoeët met goud omsoom.
                                               
My lentebedryf is ‘n veldfantasie , die veldblom-reünie op duin en klippiesveld. Dis ‘n September-saamtrek en tyd vir herontmoeting van bobbejaantjies en kalkoentjies, hartediefies, bruidsrosies, skilpadjies en jakkalsklossies, koekeloerend vir die son. Vrypostig! Fassinerend!

In die misterie van donkerte wat snags dig om my vou, lê ek toe-oog en luister na my siel, en  hou ek nabetragting van die dag. Woorde begin blom en tros saam soos blou vergeet-my-nies wat ek moet pluk en gaan droogpers op papier.  Dan is die oor mos fyn ingestel op die vreemde klanke van die nag - amoreuse krieke wat  in morsekode hul liefde vir mekaar verklaar, of die ‘n  klap-klap van ‘n nagmot teen die voorstoep se lanternlig. Veraf ruis die see, soos in ‘n skulp digby my oor, ‘n hond in die township blaf aanhoudend, die blitspatrollie snel verby op die deurpad hier agter, die sirene skreiend deur die nagstilte. Dan is dit dagbreek en die muezzin roep: “Allah!

Met tussenposes kom lamenteer die suidoostewind  hier oor my lappie aarde; dit heraldeer mos die aantree van die somer. Die ‘sedoos is ‘n gereelde gas wat onaangekondig opdaag, geheimsinnig stil onttrek, weer listig wegkruip vir dae lank om skelmpies aan die volgende strategie te beplan. In harmonie van sagte  melodie en luide simfonie swiep en swaai hy, kerm en kla hy, vrypostig, vies,parmantig, aggressief, streel en lispel hy, tart hy brandend , skroeiend, uitmergelend.. Dan kry ons weer die sprankelende ‘askies’- dae. “Askies vir gister se gure weer” en “ Kom ons vergewe en vergeet van gister se woeste wind ”. Somertye is hierdie vrywaarding egter van korte duur en wapper ons wasgoed alte gou weer verwoed op die maat van die wind.

Mmm, ek proe die see in die geelstert en glasuur kwistig my porsie roostersnoek met suurlemoen en appelkooskonfyt. Vandag is daar bykos van hotnotskool uit ons kontrei, kerrieperskes en soetpatat, ‘n dik sny bruinbrood met moskonfyt en vir die laaste gaatjie nog, kraak ek ‘n vet koesister.
                                               
Die windklok klinkel fyntjies. ‘n Stille vreedsaamheid. heers oor my lappie aarde hier aan die soom van die water. Dit is mos ons pot goud ! Ek tintel en gryp hierdie reënboogdag, want ek  het mos ‘n huisie by die see.....