Vanuit die neerdalende vliegtuig op pad Kaapstad-lughawe toe, sien mens die R44 waar dit die N2 kruis, soos die kromminge van 'n reuse-voël se vlerke, na links en regs uitgestrek.
Die ingerygde besienswaardighede langs hierdie roete sal nie maklik oortref kan word nie. Ons verkies vandag om links om te ry Kaap Hangklip en Hermanus se kant toe.
Besoekende vriende uit Duitsland mor omdat Chapmanspiek-rylaan dikwels gesluit is weens gevaarlike klipstortings teen die hellings af. Toemaar, troos ek, hier aan die oostekant van die Baai is netso 'n rit langs die lieflike Clarence-seekuspad(1998 ingewy).
Sondae is dit 'n breakfast run-roete, dus kies ons eerder 'n weeksoggend vir hierdie spesiale roete langs die see.
By afritjies hou ons stil om die oorkantste skiereiland wat helder teen die horison lê, deur die verkykers te bespied. Hoe mooi is die see se kartelwater wat so lekker Klaradyn dans in vele skakerings, darem nie!
Die Steenbras-staproete net om die draai van Gordonsbaai, van die monding al langs die rivier op.Dan volg Kogelbaai waar berg en see op 'n wye wit strand ontmoet , 'n fotograaf of branderplankryer se droom. Ver in die agtergrond sien mens die unieke profiel van Kaap Hangklip wat ou seevaarders so verwar het.
Troppies Chachma-bobbejane wei ongestoord om ons rond; ek wys die bobbejaanproef-asblikmeganisme aan ons verwonderde besoekers uit .
Rooiels, die eerste dorpie op ons pad, se naam is afkomstig van die rooi-elsbome wat in die omgewing gedy en waarvan die wortels 'n besondere kleur aan die waterpoele verleen.
Buurdorpie Pringle-baai is 'n ideale wegbreekplekkie waar mens 'n lae profiel kan handhaaf, of soos sommige inwoners dit stel - onder die radar kan beweeg!
Kaap Hangklip wat die oostelike grens van Valsbaai aandui, spog met sy eie vuurtoring. Ons bespiegel - hoe kom die hoë tregter witsand daarbo? Seker maar wind-opgeswiep deur die Kaapse Dokter!
Orals in die veld en teen die berghange padlangs, sien ons steeds tekens van die brandskade van twee jaar gelede - 'n hele paar huisgeraamtes staan nog netso ongerestoureer. Fynbos begin darem weer kop-uitsteek hierlangs - brand is glo stimulerend vir oorlewing!
Dan kom Bettysbaai aan die beurt. Hier by die Harold Porter veldblom- en natuurreservaat wil ons eers ons dors gaan les by die koel teetuin voordat ons opstap na die pragtige bronskleurige watervalpoel 'n entjie op in die skaduryke Disakloof, vernoem na die inheemse rooi grondorgidee wat hier aard. Die oranje bosse speldekussings en groot skilpaaie steel ons besoekers se harte.
By Stoney Point wag duisende pikkewyne ons nuuskierig in. Wat kom ons hier op hul terrain doen? Die Duitsers trek hul neuse op vir die sterk guano-reuk. Dis maar een van ons besondere Afrika-aromas, verduidelik ek. Die wrak van die walvisboot Balena is stille getuienis van die ou Suiderkruis-walvisstasie wat eens op 'n tyd hier bedryf is.
In Kleinmond se tuisnywerheid op die ou hawe koop ons vir ons gaste elkeen 'n sappige koesister - die lang Kaapse soort - en drink swart bitterkoffie op die rotse bo die water. Ai, klein plesiertjies vul 'n dag vol dankbaarheid!
Hermanus is ons eindbestemming. Dis nie meer walvistyd nie, maar die spesiale ambience van die plek verander nooit. Ons gaan stel ons gaste aan Grotstrand en Voëlklip bekend, maar die koue Kaapse seewater skrik hulle gou af.
Mens kom Hermanus toe om vis en skyfies uit koerantpapier te eet, terg ek. Op die klip-rusbankie by Walkerbaai se Boiling Pot word ons stil - elkeen besig met sy eie gedagtes en waardering van ons wonderskone Suid-Kaapse kus.
No comments:
Post a Comment