Wednesday, 3 August 2011

Skulpe vir die kersboom

Skulpe vir die kersboom


Kerstyd kom maak die binnelandse familie mos graag ‘n Kaapse draai  hier na Strand se kant toe, suid-oostewind, of te nie! Ons gun hulle dit, maar mens moet maar al jou “wits” bymekaar hou om hierdie tsunami-uit-die-noorde voorbereid die hoof te kan bied!

Teen Desembermaand sien oupas en oumas darem mos weer uit na ‘n besoekie van die kleinkinders. Ons twee oues van dae het vier van hulle - tussen sewe en elf jaar oud. Gesamentlik vorm  die viermanskap ‘n formidabele alliansie, dus verkies ons om hulle eerder twee-twee in te wag vir hul see-vakansie. Twee is darem heelwat makliker hanteerbaar as vier ; ‘n mens kan meer aandag skenk aan hulle veeleisende en uiteenlopende  “likes and dislikes”, veral as dit by kos kom! G’n twee ma’s maak hul kinders dieselfde groot nie – daar’s mos maar altyd daai “sibling rivalry”, by gebrek aan ‘n lekker Afrikaanse woord!

Oupa is die voorsiener en moet sorg dat die koskas vol is ; hy begin al van Oktober voorraad van die supermark af aandra.Ouma sal uiteraard weer die belangrike rol van storieverteller, weerligafleier en sieketrooster moet vervul; sy’s die een wat planne moet beraam om magies vol te hou en die gretige handjies vol en besig.

Maande voor die tyd begin Ouma See (dis nou ekke), ook allerlei goedkoop voorskoolse speelgoed  uit Crazy Store bymekaarmaak – speelkaarte, inkleurboeke, koki’s, , boublokkies,strand-emmertjies en –grafies. Vir die  noodsaaklike stiltye vorentoe, wanneer jy smiddae jou siel en jou seer rug ’n bietjie wil laat rus op die katel, skaf jy ‘n paar DVD’s aan of neem video’s op. Hier maak jy staat op die tegnologie en die elektronika as jou trawante.

Gelukkig is die strand hier voor ons,  darem ook ‘n ware uitkoms!
Toe ek nou die dag afbuk om 'n besonder mooi perlemoenskulpie op te tel , flits daar 'n paar briljante “brain waves”  deur my kop: Kleinkinders kom een van die dae kuier. Kleintjies hou mos van skulpies. Kinders sien heeljaar uit na  hul  volgende kersboom-by-die-see.. Ouma moet die “kiddies” besig hou terwyl Ma en Pa boeklees of gaan golf speel. Wat van skulpe vir die kersboom?

Ons stap elke dag strandlangs en neem die mooi uitspoelskulpe so vanselfsprekend; hulle is mos maar daar . Tog is die een kunstiger geskep as die ander, elkeen met sy unieke patroon, glans en kleur - en met 'n misterieuse geskiedenis van oorsprong ,lewensiklus en verganklikheid diep in die see.
Net daar en dan besluit hierdie ouma hoe sy die voorskoolse handjies kan besig hou - die mooiste skulpe kan bymekaargemaak word op 'n 'skattejag', dan gewas en drooggevryf, om verder met goud en silwer kinderverf en glitter versier te word. Lintjies vir die deurryg. Goedkoop en maklike kersversierings! Om die waarheid te sê,  ek moet erken dat ek nog nooit 'n skulpversierde kersboom gesien het nie. En waarom dan nie? Gebruik wat voorhande is en omskep dit in iets en wat ure se plesier sal verskaf! Dit sal sekerlik as Ouma See se spesiale see-kersboom onthou word.

Oupa kan  gaatjies boor en klein  vingertjies kan die vislyn of lint deurryg en ophang na hartelus. Ons kan pêrelkraletjies of muntstukkies in toeklap-vlinderkulpies versteek, perlemoerhangertjies maak, windklokkies inryg. By die kersboom sal ons elkeen 'n skulpstorie moet vertel wat ons self uitgedink het – skulpe, die wonderlike '"survivors" van die see!

Vandag nog begin ek my plan in werking bring - drie skinkborde vir die morsigheid, my ou skilderkwassies, botterbakkies en  bottelproppe  vir verfhouers en blinkertjies, boksies vol ou kraletjies, 'n skêr, kerslint en ‘n koeksel vislyn. Ek dink sommer ook 'n klompie maklike skulp-raaisels uit, om binne in mosselskulp toe te bind.

Raai, ek dink ek begin al regtig weer uitsien na hierdie besige somervakansie!

No comments:

Post a Comment