Oor die Hottentotshollandberge kronkel die besigste van die vier bergpasse in die Suidkaap , die Sir Lowry's, wat toegang verleen tot Overbergwêreld.
Dit is so'n lekker Sondag-uitstappie na die plekkies ágter die berg - dRt wat mens soms oorslaan as jy haastig verbyjaag Tuinroete toe
Dis mos nie net die bestemming wat belangrik is nie, maar ook die reis daarheen. As jy so 'n Kaapse draai wil gaan maak Overberg se kant toe, vat net jou tyd om stil te hou, te kyk en waardeer - vir avontuur moet jy mos maar afdraaipaadjies langs ry.
Ek dink nou maar aan die heerlike padstalle aan weerskante van die Sir Lowry’s pas naby Grabouw, nl Peregrine en Orchards waar jy kan stilhou om jou te verlustig aan bosse inheemse proteas met fynbos, droëvrugte, heerlike konfyte en tuisgebak.
Draai ook gerus af na die klein dorpie,Grabouw , waar jy die heel lekkerste boerewors in die kontrei kan koop.
Grabouw en Elgin is mos by uitstek appelwêreld en gedurende lentetyd staan die appelbome in hulle wit bloeiseltutu's, ry op ry, gereed vir die volgende somerdrag.
Niks behalwe tyd verhoed jou om daar by 'n pakhuis te gaan inloer om te sien hoe netjies en deeglik die appels gesorteer en verpak word nie! Die Appletizer-pad draai ook hiernaby uit die grootpad.
By Dassiesfontein se padstal eet reisigers op pad na êrens, lustig van 'n middagete-spyskaart kontreikos uit blikborde op houttafels, en snuffel 'n antieke stukkie uit tussen die magdom antieke snuisterye.
Verder N2-langs ry jy deur die Houwhoekpas met sy charismatiese oorslaapplek, die Houwhoek Inn, waar jy knus langs 'n kaggelvuur kan sit om 'n rooiwyntjie te geniet.
Die Overberg self wil jou na die palet en skilderkwas laat gryp, so inspirerend mooi is die lappieskombers van heuwels – kontoerlande koring, lusern en canola, en uitgestrekte uievelde by Botrivier.
Troppies volstruis wei koponderstebo , tweelinglammers huppel die somer tegemoet en kraanvoëls sleep kwaai vlerk.
Net voor Caledon draai mens links af Genadendal en Greyton toe, die eindbestemming van ons dagrit. By Genadendal hou jy stil om 'n bietjie wyser te word oor die Morawiese sendingpogings . Dis Sondag en die inwoners stap en masse uitgedos, straat-af kerk toe.
Jy gaan loer in by die historiese ou grasdakhuisies en kerk en neem foto’s van die ou klok wat werkers en skoolkinders sou maan om nie laat by die skool, werk of kerk aan te kom nie. Kliek sommer ook een van die geduldige slap-oor donkies!
Teen die agtergrond van die persblou Riviersonderend-berge lê Greyton, 'n dorpie uit 'n prentjieboek, met die allermooiste grasdak-kothuise met tipiese "English Garden" – blombeddings en groentetuintjies, en leivore langs koel boomlanings .
Daar is tyd om eers om bene te rek in die natuurreservaat teenaan die dorpie. Die wêreld ruik na roos, sering, denne en heuningblom, na kappertjies wat wild oor die leivoor tuimel.
Op pad terug, verby die Steenbrasdam wat kant en wal lê, hou mens vir oulaas stil by Sir Lowry's se uitkykplek waar jy saam met die bobbejane op die klipmuurtjie uitkyk oor die unieke panorama daar ver onder : Gordonsbaai en Strand, die Helderberg-kom, Vergelegen se wingerdheuwels, ons mooi blou Valsbaai, en die Kaapse skiereiland, deinserig op die horison.
No comments:
Post a Comment