Die afdraaipad na Boggomsbaai
Wil jy totaal en al wegbreek van stadsrumoer, besoedeling, misdaad? Soek gerus die afdraaipad na Boggomsbaai.
Op ‘n padkaart kry mens dit nie sommer maklik nie, maar ‘n GPS’sie kan jou help om by hierdie unieke bewaringsbewuste dorpie uit te kom.
Boggom-se-baai het vroeër verwys na ‘n gesiene inwoner wie se lyftaal glo sterk herinner het aan 'n ‘burger van die berge’! Hierdie afbeelding van ‘n bobbejaan het die man glo erg aanstoot gegee en is sedertdien verwyder.
Naby die einste afdraaipad is die eerste teken dat ons nou in ‘n 'anderste' geweste is – ‘n onbemande hout-en-heuningstalletjie met slegs ‘n blikkie vir geld daarnaas. Misdaad kon sóver nog nie die langpad suidwaarts loop tot hier nie!
Die Boggomsbaaiers se deure staan oop, mense groet mekaar lekker op Afrikaans, motorsverkeer is min en velddiere kry padvoorkeur. Hier ry jy nie gou weer nadat jy afgesaal het nie - jy stap in die ongerepte omgewing, met waardering! Kinders speel vankansietye tussen duine, ry onbekommerd fiets of vang veilig vis saam met Pa.
Besoekers soek verniet ‘n Boggomsbaaise hotel, winkel, vulstasie of huishulpe. ‘Inkommers’ (nuwe intrekkers) verkies dat hul privaatheid nie deur kommersiële ontwikkeling (en alles wat daarmee tepaardgaan) bedreig of versteur word nie.
Tog is daar genoeg om mens aktief besig te hou , soos golf, jukskei, tennis en die Sandpiper –gesondheidspa. Seekus-wandelings, soos die Oystercatcher Trail van Fred Orban, bekende inwoner-ontwikkelaar met ‘n ywerige missie vir seekus- en natuurbewaring, is besonder gewild.
Hierdie 5-daagse begeleide kusroete lei vanaf Cape St Blaise tot Gouritzmond, langs seekranse, ou Khoi San-grotte , visfuik-poele, verby strandduine en deur fynbosveld. Wayne Meyer, ‘n gekwalifiseerde kuswag–cum-bewaringspatrolleerder, verbonde aan Kaapse Natuurbewaring , teken aktief op gereelde basis bewarea-data aan en vermeld ongerymdhede, soos onwettige vangste en verwydering van skulpvis, besoedeling en ongewone strandverskynsels.
Boggoms het sy eie kwota digters, skrywers, skilders, weerkenners, akademici, en celebrities wat verkies om hul talente stil-stil te bedryf. Hier kan ‘n mens nog idealis, optimis en humanis wees!
Boggomsbaaiers is trots gesteld op beheerde eko-ontwikkeling waar mens en natuur in harmonie kan saamleef. Kleinbos is so‘n eksklusiewe, ontwikkelingsbeheerde eko-landgoed op die Kaaps-Hollandse styl tussen endemiese Suid-Kaapse plantegroei..
Hier, 'ver van die stadgeluide en klinkende klank van geld’ gaan ons tuis in Skeinslê, ‘n huis op steltpale wat ver oor die see en bewarea van Boggoms, Vleesbaai en Fransmanshoek uitkyk. Eintlik is die naam ‘n lekker woorspeling van die eienaars se rare van , Skein.Inwoners word hier makliker deur hul unieke huisnaam opgespoor , eerder as per adres. Waar-Mot-en Roes-Verniel pas uitstekend by een van die oudste strandhuise.
Ons braai ‘n vleisie op die houtdek en sien slegs hier en daar enkele ligte van permanente inwoners tussen die natuurlike plantegroei flikker. Saans is dit net jy, die ruising van die see, die stilte en jou Skepper.
Op die wye strand kom ek ‘n hengelaar teë wat knars-knars oor die skulpgruis aangestap kom met twee yslike visstokke. Hy glimlag , groet en gesels oor sy vangs van kabeljou, harders en leervis . Hy poseer inskiklik met ‘n tros blinksilwervis oor sy skouer vir my foto!
Het Boggoms probleme? “Man, besoekers se honde is soms lastig op die strand en verwilder die bedreigde swart tobies (oystercatchers). So af en toe moet ons ook ‘n walvissie terugswem in diepsee toe!”, grinnik Fred. Sjoe!
Ons verken ook die naburige Vleesbaai en Gouritzmond, wat weens uiteenlopende eienskappe en redes sy eie vakansie-aanhangers het.
Nou weet julle mos waar om te gaan skuil teen die aanslae van die land . Naby Mossgas draai jy regs af van die N2 en soek dan maar verder!
No comments:
Post a Comment