Wednesday, 3 August 2011

Wynland, Valsbaai, Voorstedelike trein

Padlangs, Wynland-in

Op die R44 sjoess voertuie by my verby ten spyte van die herhaalde spoedaanwysings. Agter ‘n stuurwiel is ek egter die spreekwoordelike sagmoedige Neelsie self. Observeer, observeer, observeer is deur my kinders se K53-bestuursinstrukiteur ingedril en mettertyd by my ook ingeprent. Dus neem  my observasie-mode oor . Ek kies egter wát om te observeer en bly maar in die stadige linkerbaan. Ek gun  myself die genot om die prag en varsheid weerskante van die pad te waardeer.

Hier van die Strand se kant af, omvou ’n wolkedons die Helderberg  vanoggend  vroeg nog rosig sag. Dan skielik, skerpglinsterend , verblindend , groet die môreson my as hy onaangekondig uitloer oor die heuwel. Nou weet ek mos waar die landmerk van die Kom sy naam vandaan gekry het! Ek vroetel in my handsak na my donkerbril.

Padlangs pryk wynlandgoed trots - Stonewall, Sweetwell , Nietvoorbij, Avontuur. Mý avontuur padlangs het begin. Ek tintel en gryp die dag soos hy langs die teerpad oopvou.

’n Komposhoop lê dampend in die vroegoggend-kilte . Ry op ry wingerd staan hoopvol klaar en wag op die laatsomer-oesbevel.’n Spogperd met rugjakkie pronkgalop in sy netjiese kampie. Winkelpop-voëlverskrikkers by die Mooiberge-padstal pas rye rooiryp aarbei op. ‘n Skaar aarbeiplukkers reeds gebukkend besig met hul dagtaak. By Bitterbessie-kwekery se afdraaipad kreun ‘n trokvol blomme kleurvol die grootpad in . Pretdag-drawwers sukkel swetend op- en afdraand uit.

Ek draai af in Dorpstraat. Onder koel eikelanings in die Eikestad dartel bruin akkerblare ritselend in ’n laaste dans om die enkels van tannies met wandelstokke , buitelandse toeriste en studente, en dryf dan  dan liggies leivoor-af  na êrens. Vanaf sy uitkykplek op ‘n gewelhoek bespied ’n parate bosduif my skuinskop, koergroet en skud sy vere reg. Sy.gespikkelde maters wei tussen soetigheid wat die pers jakaranda mildelik uitstort in Stellenbosch se Van Riebeeckstraat.

Ek hoor Adeste Fideles sag in die agtergrond by die gemeentelike November- kersmark en ek kies uit rakke vol talent ‘n engel van fynbos as kroon van die kersboom vir ons eerste kleinkinnerkind

Halfpad Helshoogte uit teen die hang ontdek ek die bessieplaas . Ieder en elk word uitgenooi :

daar’s bessies om te proe
kom kies en keur
ook druif
amandel en olyf

Padlangs suidwaarts terug lê blou teen blou, ’n sonnighelder Valsbaai .Ek draai my venster af. ‘n  ligte Suidoos  heraldeer die aantree van volsomer en die soutbries van die see af prikkel my neus. Aa!  Ek adem diep . My geoefende neus ruik vandag seebamboes en mosselskulp. Voor my wieg die see saggroen en wit. Om die Helderkom vou berge deinsigblou, met die Hottentotsholland sagkens toegevou in sy wolkekraag van belofte.


Sondagmiddag:Valsbaai                                                                                          

Dis laatmiddag. ‘n Handvol vere pof uit tot ‘n donsige kraag gedrapeer oor Hottentotsholland se skouers. Vanaf die Steenbraspad se uitkykkrans,  lê Valsbaai se kartelwater laat vanmiddag sereen en stil in ‘n winkelhaak-omhelsing van bergkrans tussen Hangklip en Kaappunt.

Ek kan met die oog die sierpatroon volg van seestrome tot hieronder by Bikini-baai waar skuimbranders sagkens oor die rotse streel.  In kolle skadu van melkhoutbome skrop vakansiegangers nog vir oulaas ‘n luilekker-lêplek in die sand en pak piekniekmandjies in. Hieronder by Gordonsbaai kompeteer waagmoedige regatta-seilskepies vandag heeldag om ‘n voorste plek, nuuskierig vergesel van ‘n skool speelse dolfyne wat vinvlugtig klief, duik en saamseil.

Laag in die Helderberg-kom damp prismakleure in ’n reënboog op. Skarlaken, pienk en pers, geel en groen vloei ineen tot ‘n breë seintuur van opwinding en belofte. Ons ry terug berg-af, onderdeur die koepel van kleur en ek besef meteens: sowaar, hier is mos óns pot goud.

Die son sink laatmiddag skarlakenrooi terug op die horison se skouers; dit word ‘n donker,  vergulde silhoeet  ‘n Deinserigheid daal tussen die laaste flarde  wolk, room en rosigpienk. Die misterie van die perspienk hange word beklemtoon deur grys en diepblou skadu’s.Ver diepsee in lê die horison van skiereiland en see nou skerp afgeëts - ‘n donker streep baftablou. Teen skemeraand begin flonkerliggies  verraai waar Vishoek, Kalkbaai, Simonstad verskuil lê.                                                                     
Ons Valsbaai - ankerplek en speelplek van rob en pikkewyn tussen seebamboes en bruingety,  aardplek van die aronskelk  en hotnotsvy op  duineveld langs melkwit halfmaanstrande.

‘n Seemeeu vlieg laag - ‘n spatsel wit op die wieke van die wind.

Waar in die wye wêreld sal Willem Wouter dan anders wil woon?
                                                                                      
Voorstedelike trein

Ek wag alreeds teen halfsewe op Strand-spoorwegstasie, die eind- en beginpunt van ons voorstedelike trein. Dis tyd. Dieselfde klein groepie werksmense mik na die voorste eersteklaswa. Hier sal daar darem nog heel  treinruite wees en die sitplekke se meswond-letsels is darem gewoonlik netjies toegewerk.

Ons klik-klik dampend die daeraad in. Die nagdou glip nog in koel straaltjies teen die taai treinruit af. Op stasies soek passasiers  skuiling teen die kilte van die oggendwind. Wanneer die treindeure outomaties oopskuif, vul sitplekke vinnig en gesprekke begin vlot. Ek merk onderlangs vlugtige oogkontak, ‘n ontwykende blik, stiltes en swye, stiltetye. Passasiers sit eenkant kouend aan brokkies ontbyt, rokend in rook verbode, gapend, slapend, lesend aan graffiti teen die duikwegmuur.

Waens glip verby - geel-en-grys-geel-en-grys-geel-en-grys. Langs die spoor strek die teerpad blinknat. Deur die mistigheid flonker ‘n paar straatligte nog  flouerig aan lamppale tussen grasdak-kothuisies, hurkend, styf teenmekaar. Sterkstam Pierneef-denne trotseer die koel wind wat skuins-oor waai.

In Kuilsrivier-kanaal lê rommelgoed soos vomeersel uitgespoeg , maar genadiglik word dit weer afgewissel met vleie vol spierwit aronskelk  en  ry op ry jong wingerd wat reeds bot. Die hoop beskaam nie.

‘n Treinglipper, met wolmus en sweetpak, promoveer homself flink uit die derdeklas-wa en staan met plastieksak en druppende sambreel naby aan die deur -  reg om uit te spring as die inspekteur in sy rigting sou beweeg.

Tussen stasies betreur ek armoedige plakkerskamp op swaarmoedige plakkerskamp, en bejammer ook in my enigheid die arme  begrafnisbeeste wat in klein modderkampies hul lot netso onbeskut in die reën moet afwag.

By Thornton lê die grafte ry op ry kilometers aaneen - Christen Jood en Moslem - apart, gesegregeer, maar almal saam oor dieselfde kam geskeer, lankal stokstyf dood. Ek trek my serp stywer hoër oor my ken en oë op - tyd om weg te sink terug in myself; tyd vir eie kommerkrale rol.

‘n Wolkbank hang vanmôre laag teen die skuinste van Tafelberg. Aan verwaarloosde skrootwerwe herken ek die agterkant van Kaapstad  -  ook maar net nóg ‘n stad met Goliat-geleiers, vuil fabrieksterreine, ‘n slagveld van gesneuwelde plastiek, vasgewaai en vermink teen skerp palmtakspeke en spiraalheinings van doringdraad wat ironies genoeg ànder euwels moet uithou!

Dan spoeg die trein ons uit op Kaapstad-stasie en begin ons skarreling soos vliegmiere na die naaste lig...





                                                                                                                                                      

No comments:

Post a Comment