Wednesday, 3 August 2011

Bonusbaai

‘n Nuwe naam vir ‘n ou plek

Genoeg oor die Weskus, Tafelberg en die Waterfront; kom maak 'n draaitjie noord-ooswaarts na Strand se kant, Gordonsbaai en die lieflike Hottentotsholland-omgewing.  Ek besef net elke dag opnuut watter voorreg dit is om omring van soveel natuurskoon te mag leef.

Vandag besing ek graag die louere van hierdie deel van die Baai, met die opregte wens dat ek kon bydra tot die nuwe neiging na naamsverandering. Uit beginsel is ek glad nie 'n voorstander van naamsverandering ter wille van nuwe politieke bedelings nie, maar in hierdie geval voel  ek  Valsbaai (Cabo Falso) is 'n onregverdige, onvanpaste naam (maak nie saak hoe hy histories daaraan gekom het nie!).

Ons almal ken mos die storie van die lelike eendjie wat toe eintlik 'n swaan was.

As mens so na 'n kaart van Afrika kyk en ons suidelike baai in geografiese perspektief sien, besef  jy opnuut  hoe uniek die ligging van Valsbaai eintlik is  Wanneer mens dan nader inbeweeg, met die Steenbrasdam-pad op teen die hange van die Hottentotsholland tot by die uitkykplek , kry jy die regte hoek en uitsig oor ons baai waar hy in die winkelhaak-omhelsing van die skiereiland, sandduin en bergkrans lê. Daarvandaan sien jy die kartelwater en kan jou oog die sierpatrone van seestrome in skakerings blou volg .Waar in die natuurwêreld vat jy so hande met jou Skepper?

Stap naweke gerus langs die avontuurlike staproetes tussen heide en fynbos. Dis onstellend om te dink dat een onbedagsame (of moedswillige) vonkie van 'n braaivleisvuurtjie of stompie dalk weer 'n brandpad tussen al die natuurprag kan oopvreet.

Ry langs die kuspad langs en soek walvisse met jou verkyker. Hou die manewales van die bobbejaantroppies dop of stap af na Koeëlbaai se geheime strandjie tussen rotse versteek. Verwonder jou aan die uithouvermoe van die branderplankryers in die ysige Kaapse water!
Seilskepies kompeteer oor naweke met mekaar voor 'n aansporende seebries. Kyk mooi en jy sal die robbe en dolfyne sien saamspeel, duik en seil

By Gordonsbaai,  ‘n regte stukkie Mediterreen, kan jy jou piekniekmandjie in die skadu  van die melkhoutbome reg by die see uitpak en die kinders se manewales in die water geniet. Vis en skyfies smaak nêrens lekkerder as by 'n opelug-eetplek langs die Gordonsbaaise strand nie.

Ons verruil ons dorpie Strand vir g'n ander plek in die wêreld nie. Alles wat belangrik is, is in loop- of vinnige ry-afstand. Die gereelde groepe "strandlopers" langs Melkbaai  is 'n goeie aanduiding van die ontspanne atmosfeer wat hier heers .

Met die verbystap van twee vissermanne knars hul stewels oor die skulpsand. Oor elke skouer swaai hul trotse vangs - trosse blinksilwer vis.  Hulle gesels en lag - hul dag is uit die see gegryp!

Die donsige kraag oor die Hottentotsholland of Helderberg is altyd vir ons 'n aanduiding van weersverandering  Hier aan die suidpunt is ons mos ingestel op die wind en wispelturige weer wat ons doen en late bepaal. Op "askiesdae" (na 'n aanslag van die Kaapse Dokter) spoel 'n helderheid weer oor ons siele en slaan ons hande saam:"Kom ons vergewe en vergeet gister se gure weer, die nat en kou en klamte" Dankie vir so 'n skitterdag, 'n Bonus van Bo! "

As die son laatmiddag skarlakenrooi terugsink op die donker silhoeët van die oorkantste skiereiland,  flits die eerste waarskuwende liggie  van Kaappunt se vuurtoring  en begin flonkerliggies verraai waar Simonstad, Vishoek en Muizenberg wegkruip.

Valsbaai, geboorteplek vn die stormwind, daar wil ek woon. Waar sien jy sulke melkwit strande,sulke manjiefieke sonsondergange,  waar ervaar jy ooit so 'n wisseling van weersomstandighede?

Dis ons ankerplek, speelplek van die pikkewyn tussen seebamboes en en branders, aardplek van die hotnotsvy, aronskelk en heideveld. Ek besef opnuut - hier is mos ons pot van goud - dis die golwing van die see, roomwit flarde wolk  oor persblou graniet, dis 'n seemeeu op wieke van die wind...

Daarom is my voorstel vir  ‘n nuwe naam van ‘n ou plek, dan - Bonusbaai.

No comments:

Post a Comment