Wednesday, 3 August 2011

Uitwyk na Zebula

 
Waar ‘n Kapenaar weer kloutjie by die oor kon bring...

Ons het die oorgang van 2007 na 2008 oorbrug saam met die volmaan net anderkant Bela Bela se ruigtes en lowergroen bosveld; meer spesifiek by Zebula, waar ons kinders ‘n nuwe bosveldhuis saam met familie wou inwy. 

Die eksentrieke Kaapse suidoos sou tydelik vir die charismatiese hoëveldse donderweer verruil word. Kom waardeer gerus die bosveldnatuur deur 'n uitgeweke Kapenaar se oë! Hoe sou die afgelope somervakansie bydra om vir ons uit die suide weer vir ‘n slag die ‘kloutjie-by-die-oor’ te bring?

Ek moet erken, my hart het weer tussen die doringtakke gaan vashaak soos die geelryp nuwejaarsmaan.
  
Zebula is 'n vyfster golf-oord aangrensend met die wildreservaat Mabalingwe, op die Rooibergpad Waterberge se kant toe.  Padlangs , hier in "die ou Transvaal" , het ons ons opnuut  verwonder aan die ywerige ekobewaring : natuurreservate, wildsplase, etniese Afrika-padstalle, lowergroen kwekerye met inheemse loof, en bosveld-ontspanningsoorde, wat alles mos bydra tot die bewaring van ons Afrikaners se bos-kultuur.

Allerlei aardse geure versterk gou-gou weer jou ou verbintenis met die veld - songebakte grondpaaie, aromas van kakiebos, veldgroen en wild, varsgedekte grasdakhuise, 'n braaivleisrokie...

Mens vergeet hier alte gou van jou dagboek, rekenaar, selfoon en TV, want hier skakel jy af en beweeg na buite . Veldfietse en verkykers word uitgehaal, natuurgidse oor voëls en wild word oopgeslaan. Lysies en prentjies van goggas en goeters, spore, bome en sade, word ywerig afgemerk. Ons stap en speel weer saam met ons kinders.

Vroegoggend of laatmiddag word opsygesit vir voël- en wildbesigtiging langs grondpaadjies die ruigte in met ‘n gholfkarretjie, te perd of in ‘n safari-voertuig . Kinders leer gou om doodstil te sit by die uitkykplekke langs die watergate. 

Waterbokke, kameelperde, wildebeeste, koedoes, moontlik ‘n  troppie meerkatte, ‘n paar fisante of alleenloper volstruis , kom onverwags oor jou pad , kyk jou reguit in die oë en doen mensbesigtiging! Die ongeërgdheid en gemak van die verskeidenheid wild val ons op -  seker vanweë die afwesigheid van groot roofdiere.

Landgoed-bosveldhuise kan gehuur word vir verblyf, maar intussen skiet privaat grasdak-lodges soos paddastoele op, gelukkig darem ver uitmekaar Tentkampe en oornag-safari’s kan ook gereël word vir geleentheid- of naweekbesoekers .

Om die boma speel die kleintjies vroteier en wolf-wolf-hoe-laat-is-dit; hulle dans en toor met grashalmliggies wat hul aansteek uit die bosveldvuurtjie. Die paddakoor maak ons saans stil met hul repertoire en die aandprogram van donderweer en blitse oor die Waterberg-horison hou ons vasgenael op die uitkyk-stoep.
  
Vir die vermaak van groot en klein,  spog Zebula onder andere ook met die sg. grootmaak-kampe vir Bengaalse tiertjies en leeuwelpies, waarmee kinders van naderby kan gaan kennismaak, asook opwindende cheetah-wedlope, saans teen kosgeetyd. Die cheetah-kamp is net 'n lekker stappie óm na die anderkant van die pragtig-gemanikuurde golfbaan. In die rustige spa-tuin kom drie mak bokkies appels uit jou hand hap. Watter kind kan na al hierdie opwinding nou aanhou en uithou tot laataand? Een vir een val helde van die dag om... 

Ywerige pa's speel golf op die vyfster-baan en afgeskakelde ma's bederf  hulself by die gesondheidspa. Oupas kry tyd om saam met die kleinman by die watergat te hengel met slap spaghetti aan die hoek , of stap veldlangs vir  “I spy!”; oumas skilder interessante boomkarakters en bederf kleingoed met eetgoed.

Wat wou hierdie ou Kapenaar vir Krismis hê? Net 'n 'properse' donderstorm met weerlig, dankie, want dis so skaars in die Kaap soos snoek in 'n Transvaalse plaasdam! Gelukkig staan elke grasdakhuis in Zebula met sy trotse weerligafleier gereed vir die wis en onwis van die weer. Die hoop het my ook nie beskaam nie. Daardie aand maak ons letterlik en figuurlik dak nat met reën en Amarula en doop die bosveldhuis  Babawingle, ‘n klankverspringde variasie van Mabalingwe, soos ons driejarige kleindogtertjie dit vernoem het.

Op Kersdag is ons kersboom 'n simboliese droë doringtak, versier met kinderlike veld-dekor : blaargroen, ystervarkpenne, gevlegde grasversierings, tarentaalvere, vlindervlerkies. 

Ons sit Nuwejaarsdag om die massiewe gesinstafel, kunstig en eensoortig-uniek gemaak uit 26 inheemse Transvaalse houtsoorte ,  met houtstompe as voetstukke, en al! Elke boomsoort wat verteenwoordig is, se pragtige Afrikaanse naam uit die veld en volksmond is onopsigtelik kunstig aangebring op die blad.

Tyd staan hier stil - kan dit werklik al agt jaar na die draai van die eeu en ons verhuising Kaap-toe wees?  Dit voel presies soos dertig jaar gelede se Bosveld  -  die ambience is nog net dieselfde.

Sou die Gautengers wat afgesit het Kaap toe , hul  somervakansie by die see netso geniet  het as óns wat die pas afgelope jaar vir ‘n verandering die nostalgiese pad noordwaarts gekies het?



No comments:

Post a Comment