Daar’s ‘n wind wat waai...
Maak die sedoos jou ook so die josie in? Ontspan en maak vrede , bra! Die Dokter is hier te lande baas en uit sy amp sal jy hom nie maklik kan lig nie! Ons Kapenaars is veronderstel om sy teenwoordigheid as vanselfsprekend te aanvaar, maar jaar na jaar met die aantree van die somer, verras sy onvoorspelbare, eksentrieke manewales ons opnuut.
As binnelander wat uitgewyk het Kaap toe, is ons v oor die tyd gewaarsku dat ons rekening sal moet hou met die wind. Ons het egter vooraf besluit dat ons onderdanig sou wees teenoor die sedoos en ons mantels letterlik en figuurlik gesproke maar sal draai soos die wind waai. Sewe somers gelede het ons toe van aangesig tot aangesig kennis gemaak met hierdie “heersende” winde.
Ons weet teen die tyd al dat jy nie met die sedoos kan onderhandel nie; redekawel of omkoop, nog minder. Sy woord is hier wet! Hierdie Tormentosa kan uiteenlopende effekte op ‘n mens hê : dit kan veroorsaak dat jy soos van Gogh jou suisende ore wil afsny uit puur frustrasie, of dit kan jou heeltemal onverklaarbaar liries laat raak. Hoe sou ek dan die sedoos in ligte luim beskryf?
Ja, hy’s wispelturig - dit swiep en swaai, kerm en kla , lamenteer en loei. Soms lig hy vrypostig ‘n hoed, steel parmantig jou inkopiesak, of pluk aggressief terug wat hy wil hê moet syne wees. As hy klaar gespeel het, plak hy dit ewe vies weer net iewers anders neer; soos ‘n janfiskaal met sy prooi, pen die sedoos sy vaandel vas aan ‘n antennapaal of heiningdraad.
My windklok is skoon van sy toonleer af verwaai, selfs die palmtakke vleg en koek deurmekaar, die strandsambreel dop om en die wasgoed woer-woer om die draad. Sou jy dit waag om hier op Strand ‘n rok te dra, sal jy maar jou Marilyn Monroe-pose moet hou en klou!
Die sedoos daag skielik op - onaangekondig ; onttrek of verdwyn netso geheimsinnig stil. Soms brand en skroei hy venynig, soms streel en lispel hy al singend saam met die reën. Soms jaag hy wolke ongeduldig aan oor die skiereiland of ruk hy hul aan flarde. Dan kruip hy listig weer weg vir dae lank aaneen om skelmpies te beplan aan ‘n nuwe aanval-strategie.
Ons sien hom dans in dwarrels sand of huppelend van brander tot brander in wit wasigheid omhul. In stille sameswering met die see spoel die wind ons mensgemors met hooggety na ons toe terug as vermanende vingerwysing. Ons hoor die afwisseling van sy sagte, meesleurende melodie met ‘n luide basuin-simfonie ; op maat van hierdie musiek waai ons maar onderdanig, wapperend soos Maandag-wasgoed !
Dan bied die wind ons onverwags ‘n wapenstilstand - sy skitterende ‘askiesdae’! Ons kan maar net jubel en juig en hande saamslaan! Kom ons vergeet en vergeef gister se gure weer, want hy vra vandag askies vir die nat en kou en klamte van gister, vir sy swiepende swartskroei en waaisand . Askies dat hy die gety weer aangejaag het om die strand se mooi wit sand met rooiaas, jellievis en seebamboes te kom besmeer
Die ligte bries is vandag soos ‘n vars asemteug . Die genot van ‘n sprankeldag het weer oor ons siele kom spoel; ons gemoedere is verfris.
’n Windstil-dag is ‘n wonderlike bonus en in dankbaarheid oorleef ons steeds heerlik in ons paradys hier teenaan die see! Somerbesoekers, na ‘n week se teisterende wind, volg ‘n paar pragtige stil dae. Hou moed en kom gerus weer; vertoef tog net volgende keer ‘n rukkie langer!
Sannie sweer sy sal nog sewe sakke sout eet hier waar Willem Wouter se woeste winde waai!
No comments:
Post a Comment