Wednesday, 3 August 2011

Sederberge

Waar 'n Seder nog vastrapplek kry .


Dis doodstil buite in die bergveld en jy kan jouself hoor dink.Twee gedagtes kom by 'n mens op as jy die verstommende rotsformasies, rotsskeure, reuse-gestapelde klippe, pilare en kolomme, kranse en ravyne om jou sien - hoe het dit alles tot stand gekom, en hoe lank  al?

Einstein het gesê dat verbeelding belangriker is as kennis, dus, by gebrek aan 'n geloofwaardige antwoord, laat jy toe dat die natuurwonder jou maar oorweldig; jy gee vrye teuels aan jou verbeelding.... Dis mos die wêreld van  C M van den Heever se "ruwe rotse", "draketande"en "klippekake"!

Daar teen die horison staan die verweerde  ruïnes van 'n antieke 'stad', verder weg toring 'n gefatsoeneerde weergawe van 'n ou 'fortkasteel' of  'katedraal' uit . Jy sien gesigte, profiele, gediertes in die klip- en rotsformasies, en jy wens meteens jy was 'n bobbejaan of 'n dassie of 'n  akkedis wat die vryheid van die rotsveld het. Dalk 'n suikerbekkie tussen die blombosse! Deur 'n verkyker volg ons die draaivlug van 'n roofvoel op 'n lugstroom hoog bokant ons koppe wat met sy skerp oë iets bespied wat ons nie kan sien nie.

Uit die verweerde rooi en geel rotswande, so verkleur deur ysteroksied, syfer bergwater wat sulke lang nat strepe teen die rotswande laat.  Dit was 'n besondere goeie reënjaar, maar ek wonder in my enigheid hoe geweldig warm en droog 'n Kaapse somer hier in die klipwereld moet wees!

As ek jonger en fikser was sou ek nie geskroom het om een van die voetpaaie op die menigte wildernis-staproetes aan te durf of dalk in 'n hut of grot te oornag nie. Hier lê die avontuur en die vryheid van die onbekende vir jou en wag,  met 'n verrassing of twee in 'n grot of klipskeur - dalk 'n 'vars' onontdekte  San-rotstekening?

Ons kan egter stilhou, sodat ek 'n entjie berg-op kan stap met my staatmaker-Crocs om te waardeer wat in die veld voor my voete lê en tussen die rotse wat langs my uittroon, groei. Ek tel sestien spesies skugter veldblommetjies op sowat een vierkante meter gruisveld. Ek sien 'n sederboompie wat uit 'n rotsgleuf groei en na buite beur en lê dit digitaal vas as voorbeeld van die onstuitbare natuur se vindingrykheid ter wille van oorlewing. Hoe sien hierdie beurende sedertakkie dalk oor 1000 jaar daar uit?

Is hierdie miskien Louis Leipoldt se geliefkoosde Hantam waar " 'n handvol gruis en gedroogde blare" hom so "koning-ryk" laat voel het?
 
Toe ons begin September 'n mooiweer-gleufie kry,  was dit vinnig inpak om te ry vir blomme-kyk in Clanwilliam se wêreld. Ja, ons het ons natuurlik verlustig aan hierdie seisoenale kleureprag, maar nadat ons versadig gekyk was,  het daar 'n bonus gewag! Die formidabele klipkoninkryk van die Sederberge het vir 'n verdere blywende impak gesorg.

Net buite Clanwilliam begin die sinkplaatpad berg-op wat jou motorvoertuig tot die uiterste beproef. Mens kners op jou tande maar ratel vasberade voort  teen twintig-dertig kilometer per uur , maar die Pakhuispas moét jy uit!  Hoe dan anders, hier op die bergpas in die klipperige Sederberge sal 'n teerpad mos heeltemal onvanpas lyk en motoriste sal reguit verbysnel Biedouwvallei toe.Die growwe pad maak jou nederig en jy moet teen wil en dank stadig ry om die Sederberge ten volle te kan waardeer.

Dan spoed 'n 4x4 onbedagsaam  in 'n warrel wit stof by ons verby .Ons rem en gly tot stilstand oor die gruis. Ons besluit:"Ag, wat, 'n koppie tee sal nie sleg smaak terwyl ons wag dat die ergste stof gaan lê nie!"


No comments:

Post a Comment