Wegbreek na Witsand se wyk
Dat ons Suidkaap vanjaar met ‘n uitsonderlike goeie reënseisoen geseën was, is tans nêrens so duidelik merkbaar soos aan die natuurparadys langs die Overbergse N2 ,en suidwaarts Witsand toe langs die R322 nie. Die skilder wil net sy kleurpalet nadergryp, die skrywer sy notaboek, en die fotograaf sy kamera, want om elke draai verras die wonderskone natuur diegene wat reis vir die plesier om waar te neem.U ku hamba, Kuku bona!
Met die intrapslag by Witsand Port Beaufort word jy verwelkom deur die groot uithangbord wat onomwonde verklaar dat jy nou die gebied van die walvis se kraamsaal en kleuterskool betree. Hierdie stelling word dan ook bewys met die eerste oogopslag oor die San Sebastianbaai , waar ons binne sekondes 15 knoetsige Noorkapper-walvisse tel, elk besig met sy eie manewales van pronk, duik en spring. Hoog teen die duinekant is 'n aantal banke aangebring vir diegene wat walvisse tydsaam met verkykers wil sit en bespied
Kaap Infanta se punt aan die oorkant steek helder af teen die horison van blou lug en see. Die Breederivier-monding is bevaarbaar vir sowat 35 kilometer opwaarts Malgas toe, hoewel die verskuiwende sandbanke in die monding dit redelik gevaarlik maak vir onervare bootmanne.
Die strandoord Witsand is eintlik die strandfrontgebied en Port Beaufort lê meer aan die linkerkantste oewer van die Breederiviemonding as jy seewaarts kyk, maar 'n duidelike onderskeid of afbakening is daar nie. Yslike uitgespoelde boomstompe op die strande, soos spierwit geraamtes, is oorblyfsels van ‘n vorige rivier-in-vloed.
By die halfmaangetypoel spat die groot branders van die inkomende gety hulself flenters in ‘n skuim van wit. Met die verbystap knars die stewels van twee vissermanne oor die strand se skulpgruis - oor elk se skouer swaai 'n vangs blinksilwer vis, soos trosse uit die Beloofde Land. Ek dink so by myself , " hul dag is uit die see gegryp".
By die halfmaangetypoel spat die groot branders van die inkomende gety hulself flenters in ‘n skuim van wit. Met die verbystap knars die stewels van twee vissermanne oor die strand se skulpgruis - oor elk se skouer swaai 'n vangs blinksilwer vis, soos trosse uit die Beloofde Land. Ek dink so by myself , " hul dag is uit die see gegryp".
Ons gaan tuis in die kajuithuis van ‘n jarelange inwoner, veteraan seiljagnavigator en ywerige hengelaar. Die foto’s en versierings in ons gasheer se houthuis getuig van sy spesiale verbintenis met die see - rekord-kabeljouvangste, seiljagte op wedvaarte tussen die Kaap en Suid-Amerika, allerlei interessante strand-optelgoed en ‘n unieke nautilus-skulpversameling. Hy wys die strate met visname aan ons uit - Galjoen, Steenbras, Roman, Kabeljou , Knorhaan, vertel lekker seestories oor sy kleintyd en gesels onderhoudend oor sy spesiale seemansdae. Die see en die mense van Witsand se grille en giere ken hy ewe goed!
Mooi B & B’s en ander verblyfplekkies word aan ons uitgewys, soos o.a. die Pansy Shell Cottages, almal met benaminge wat verband hou met die see. Ons verkneukel ons aan oulike strandhuisies soos Rotsgeklots, Stukkie-vir-Stukkie, Bikivibiki , No Warries, Whales Tales. Hulle gesels oor die ontploffing in huis en erfpryse die afgelope drie jaar, die mooi ontwikkelings soos Oyster Bed Village, en nuwe kampeer- en sportfasiliteite.
Ons gasvrou verskaf tussenin inligting oor Hoonkers on the Rocks, die Whalers’Grill en Di’Mond -seekosrestaurante, Nella se “all-sorts”-winkel en die Backpackers . Historiese gedenkwaardighede soos die Barry Memorial Church en Die Kraaltjie-bootjettie wat dateer uit die jaar 1849 toe die Breede nog ‘n bevaarbare hawe was vir vistreilers en kusvragskepe (koring, volstruisvere, wol vanaf die Overberg en Karoo), maak ons kuier verder interessant en leersaam.
‘n Middag word opsygesit om met die grondpad langs Malgas toe te ry - die enigste nie-motoriese (mensbeheerde) rivierpont in die land word daar aangetref. ’n Span van twee man sorg dat die kabel wat die pont oortrek aan’t beweeg bly - dis harde werk slegs met behulp van skouerbande en lyfgordels. Op ‘n besige dag in seisoen trek hulle glo tot 50 + motors oor, soms sommer drie-drie tegelyk. Die koste beloop R30 per motor retoer, maar uit pure erkentlikheid stop jy sommer nog ‘n fooitjie in die hand van hierdie harde arbeiders.
Malgas is ‘n lekker rustige wegbreek- of wegkruipplek, met ‘n hotel en konferensielokaal. Vir tydverdryf móét ‘n besoeker egter maar ‘n boot, sudoku en ‘n boek saambring! Enkele rivierboothuise kan ook bespreek word.
Terug in Witsand verneem ons van al die sportgeriewe en fasiliteite: 4 x 4 duinebesie-ritte, rolbal, perdry, jaarlikse hengelkompetisies, ‘n verskeidenheid seesport en bootvaarte. Verder is staproetes gewild in die duineveld , of strandlangs na Moodie se Put en die riviermonding by Puntjie.
Witsand, Infanta en Malgas langs die Breederiviermonding , asook die naburige Vermaaklikheid omvat ‘n groot bio-diversiteit - plantspesies, seelewe ,voëls en wild. Troppies volstruis en kraanvoëls, blesbok en zebra, skaap en bees word hier aangetref.
Wanneer laas het jy ‘n vlerksleep-volstruis in ‘n warboel van wit en swart sien pronk, ‘n swerm lieflike bloukransvoëls laag oor die neon-geel canola-landerye land sien vlieg, spekvet Jersey-beeste teen ‘n heuwel onder ‘n lae reënboog sien wei, waterblommetjies op ‘n silwer dam sien dryf, of stilgehou by bont tweelinglammers van ‘n spierwit ooi, omdat dit net eenvoudig so pragtig is?
Het jy al ‘n draai gaan maak by Blombos se protea-reservaat, die panorama van die Duiwenhoksriviermonding van bo-af bewonder, 'n rare spierwit pansy-skulp of nautilus opgetel, of Witsand se walvisse vlak agter die branders sien speel? Het jy al Vermaaklikheid se fynbosheuning geproe?
Vir ‘n wegbreek na Witsand is die asemrowende 250 km roete of reis (vanaf Strand se kant) net so belangrik as die eindbestemming op die duine.
No comments:
Post a Comment