My lappie aarde
Vlak by die see, teen ‘n wolkbehangde Helderberg en die grysblou Hottentotsholland ,vind jy die verhoog van my lewensteater. Op hierdie lappie Mediterreen waar die baai in die winkelhaak-omhelsing van die skiereiland lê, deel ek my seëninge daagliks in monoloog met die Skepper - soms spontaan luidkeels of andersins net in stille gebed binnewaarts.
In die ligte oggendwasigheid begin my dagbedryf, in die somer se middaggloed ontvou die storie van my dag en in die koelte van die aand se seebries mymer ek oor die afloop daarvan.
100 tree van my voordeur af lê die hooggety se visite-kaart - uitskot wier , skulp en seebamboes,‘n deurskynende jellievis, impotent onderstebo. Die daeraad is rosig, die soutlug sag - ek proe dit op my lippe en voel dit aan my wang.
Dit kos fyntrap oor die knarsende somergras se duwweltjieveld na die voorduin. Hierdie is strand-kiewiet se afgebakende terrein; jarelank al skel geslagte kiewiet-pare skerp en skril en kamikaze-duik hulle venynig op my onskuldige laphoed af om my te verwilder as ek te naby aan hul spikkel-eiers in die vlak nes kom. Ek wonder dikwels in my enigheid of dit is omdat daar van hulle dalk ook krombeen, seer en alleen is , en of hulle maar net bedreigd voel dat ek hul hoop en drome sal stukkend trap. Of is dit maar net omdat hulle swart en wit is en ek in kleur?
As die môredou soggens nog koel en vars op my voortuin lê, begin die spikkeltarentaal in grys, gebukkende troppies skarrel en skrop - die witte behoedsaam eenkant. Soos ‘n wafferse generaal sit my gemmerkat penregop op die stoep en steur hom kamtig nie aan die trop gevleuelde kuiergaste nie; naderkruip sal hy egter beslis nie. Hy het mos al ‘n dure les geleer - die oppassers is verbete veiligheidswagte.
In die voor- en najaar draf die pare tarentaal onvermoeid tot vervelens toe op en af voor die huis verby in ‘n spel van ‘jagentjies’. Soms kom ek af op ‘n klos bontgespikkelde vere vasgefladder teen die hotnotsvy of selons, stille getuienis van ‘n nagtelike afspraak met die omgewing se rondloperkat. Ek bêre afgelegde tarentaalvere as bladaanwysers , gebruik dit vir groetekaartjies, of ryg hulle vas aan my wind-woerwoer wat aan die groot ou melkoutboom se droë tak.hang.
Op my voorstoep pryk my uitstalrak - alles optelgoed van ‘n strandloper: opgerolde, nuttige vislynwaaraan ek ure lank geduldig sit en ont-‘koek’ het, asbakkie-perlemoer, ‘n verskeidenheid van klein, groen seepampoentjies, ‘n verwaaide vlieër met ‘n misterieuse grynslag en reënboogstert. Soms as die bries net reg is, waag ek my hand aan die vlieër. In die lokval van die wind sal hy dans en tol en sy stert parmantig swiep. Of hy sal moedswillig uit pure protes die tou uit my hande wil ruk - hoër sterker, verder, totdat ek hom met my wil afwaarts manipuleer en weer netjies inkatrol.
Vanaf my klipstoep sien ek ‘n spierwit seemeeu sy vere regskud op die natbruin rots. Twee bruinvissermanne met seestewels staan daglank geduldig in die vlak deining. Deur my verkyker bespied ek die kartelwater van seestrome wat saamvloei in wisselende patrone en skakerings blou. Ek gesels intiem met die see: “Wil jy wals vandag in koningsblou, Klaradyn, of wil jy tango,en verleidelik swaai in ‘n sensuele samba op maat van die wispelwind?” Ek geniet die speelse rob of dolfyn, die vinvlugtiges, en verwonder my aan die kwistige kleurpalet van die meesterlike sonsondergange oor die Kaapse skiereiland. Laatmiddag sak die son skarlakenrooi agter die westerkim weg en lê daar net ‘n donker silhoeët met goud omsoom.
My lentebedryf is ‘n veldfantasie , die veldblom-reünie op duin en klippiesveld. Dis ‘n September-saamtrek en tyd vir herontmoeting van bobbejaantjies en kalkoentjies, hartediefies, bruidsrosies, skilpadjies en jakkalsklossies, koekeloerend vir die son. Vrypostig! Fassinerend!
In die misterie van donkerte wat snags dig om my vou, lê ek toe-oog en luister na my siel, en hou ek nabetragting van die dag. Woorde begin blom en tros saam soos blou vergeet-my-nies wat ek moet pluk en gaan droogpers op papier. Dan is die oor mos fyn ingestel op die vreemde klanke van die nag - amoreuse krieke wat in morsekode hul liefde vir mekaar verklaar, of die ‘n klap-klap van ‘n nagmot teen die voorstoep se lanternlig. Veraf ruis die see, soos in ‘n skulp digby my oor, ‘n hond in die township blaf aanhoudend, die blitspatrollie snel verby op die deurpad hier agter, die sirene skreiend deur die nagstilte. Dan is dit dagbreek en die muezzin roep: “Allah!”
Met tussenposes kom lamenteer die suidoostewind hier oor my lappie aarde; dit heraldeer mos die aantree van die somer. Die ‘sedoos’ is ‘n gereelde gas wat onaangekondig opdaag, geheimsinnig stil onttrek, weer listig wegkruip vir dae lank om skelmpies aan die volgende strategie te beplan. In harmonie van sagte melodie en luide simfonie swiep en swaai hy, kerm en kla hy, vrypostig, vies,parmantig, aggressief, streel en lispel hy, tart hy brandend , skroeiend, uitmergelend.. Dan kry ons weer die sprankelende ‘askies’- dae. “Askies vir gister se gure weer” en “ Kom ons vergewe en vergeet van gister se woeste wind ”. Somertye is hierdie vrywaarding egter van korte duur en wapper ons wasgoed alte gou weer verwoed op die maat van die wind.
Mmm, ek proe die see in die geelstert en glasuur kwistig my porsie roostersnoek met suurlemoen en appelkooskonfyt. Vandag is daar bykos van hotnotskool uit ons kontrei, kerrieperskes en soetpatat, ‘n dik sny bruinbrood met moskonfyt en vir die laaste gaatjie nog, kraak ek ‘n vet koesister.
Die windklok klinkel fyntjies. ‘n Stille vreedsaamheid. heers oor my lappie aarde hier aan die soom van die water. Dit is mos ons pot goud ! Ek tintel en gryp hierdie reënboogdag, want ek het mos ‘n huisie by die see.....
No comments:
Post a Comment